Thursday, December 28, 2017

Wat 'n Jaar!!

Wat 'n jaar!? Die afgelope 365 dae was glad nie maklik nie. My soeke na rigting was so intens dat my kop soms regtig gedraai het. Toe ek verlede jaar in Suid Afrika was het deel van my daar vasgehak en nie weer saam teruggekom nie.

Voorheen kon ek myself bepaal met waarmee ek besig was en myself nie toelaat om ver draaie te loop na die mooi bosse, riviere en berge van my tuisland nie. Voorheen kon ek myself sien oud word hier in die sneeu, en heuwels en alles Engels. Voorheen was daar net 'n vae seer binne-in my vir wat was maar nie meer kan wees nie. Voorheen was Afrikaans die taal van my kinderdae wat nie meer maklik op my tong gesit het nie. Voorheen kon ek myself geniet in die bosse hier, was die bome se name interesant en wou ek die voëltjies se liedjies leer. Voorheen was daar 'n mate van rus in hierdie vreemde land. Voorheen kon ek my trane inhou en bietjoe laat oorloop met 'n boodskappie of oproep. Voorheen kon ek die knop in my keel weggesluk kry. Voorheen was 'n drukkie van my kinders en kleinkinders genoeg. Voorheen ...

Maar terug in Suid Afrika in 2016 het iets uitgeval. Miskien was dit die deksel van my hart wat ek vir jare stewig vasgeskroef gehad het. Miskien was dit die wortels, wat ek geignoreer het, vanwaar my menswees groei. Miskien was dit die plooitjies en grys hare wat huistoe drang. Miskien was dit dat Mammie nie alles meer mooi onthou nie. Miskien was dit die soete gemeenskap van my maters. Miskien wil my voete nie meer in sneeu stap nie en verlang my tone na stof en doringboompies.

Hoe vind mens balans as jou voete nie meer wil dans op 'n dansvloer van nagemaakte hout nie? Waneer jy in stofpaadjies wil hardloop en na boeremusiek wil luister? Jy gryp-gryp na halmpies gras en soek na 'n hand om jou regop te hou. Dit werk vir so kort rukkie. Maar die grassies breek en die hand word moeg.

Jou siel is vlenters gebreek. Die stoere gesig wat jy al dekades hou en die glimlag wat nooit jou oë beryk het nie is toe net 'n masker. Dit is stukkend. Jy sukkel om dit weer reg te maak. Maar jou siel is ontbloot, die diep wond gewys. Waar is al die stukkies heen? Hier is daar nie meet 'n tuiste nie.

Met 'n diep verlange smag ek om te behoort. Vader se huis is my toekoms. Hierdie sal ook spoedig verdwyn. Dan sal daar nooit weer 'n verlange wees nie want dan is ek ewig tuis.

Sunday, December 17, 2017

Swart Eetkorinkies

Laaste blare klou desperaat aan die spoke vingers wat swart die blouste blou lug insteek. Winde wat asblikke omwaai het ook die vaal bruin blare in hope hope geblaas waar die heinings hoekies maak.  Hy het reeds twee grondboontjies in sy kieste. Sy swart vingertjies werk saam met sy tandjies om die een wat hy nou het uit die dop te kry. Sy lyfie bewe en sy bosstert krul. Hy werk so vinnig asof sy lewe daarvan afhang. Sy lewe hang voorwaar daarvan af. Binnekort sal niemand hier in die parkeerterein kom sit en grondbone vir die eetkorinkies gooi nie. Hulle sal almal in hulle huisies en woonstelletjies wegkruip vir die koue.

Hulle is meesters van voorbereiding. Die hele somer skarrel hullerond om op te gaar vr die koue tyd wat kom. Daar is geen debat, geen wonder, geen navorsing nie. Hulle weet net dat dit kom. Hoog in die bome, waar mensehand selde kom, maak hulle 'n huisie met 'n stoorlamertjie. Wie sê vir hulle: " Die winter kom. Maak gereed?" Hoe weet hulle om heel somer okkerneute, grondboontjies en selfs die bolle van blomme weg te bêre? Of praat dieselfde Hemel Vader met ons almal maar eetkorinkies luister net beter.

Grys dae. Winter. Tye waar een-voet-voor-die-ander 'n oorwinning is. Dit kom in elke lewe. Party hoor die waarskuwing en maak gereed. Die fondasie word verstewig. Emosionele sterkte opgestoor. Liefde uitgedeel soos soetkoekies. Genade uitgestort soos reën. Ons gooi die net ver en wyd, vang al die "memories" wat ons kan, vir later. Daar is sulke wonderlike hulp vir onthou, in fotos.

Maar daar is ook voorbereiding vir die donker koue dar in ons siel en gees. "Leer maar Sy weë wanneer jy jonk is,"  staan geskrywe, " voor die ongelukkigge dae kom wasrvan jy sal sê: " Hiervan hou ek glad nie." "

Waar is my Mammie

Daar is plakkertjies ooral op my bors en rug. Draaitjies van daar af gaan in 'n draagbare rekenaartjie. My hand het 'n drup in en ek kan nie my eie nagklere dra nie. Elke paar ure kom doen hulle 'n ander toets. Die moeg wat van my tone opgestyg het, opgestyg het tot my kop in 'n tornado verander het, lê nou hier in my maag.

Die televisie raas vervelig aan. Al die goed is maar dieselfde: Geweld. Poletiek. Een of ander pratende kop. 'n Program wat vertel hoe wonderlik ons skepping is maar volgens hulle is daar geen Skepper noe. My kop draai. My selfoo  is onder die hoek van my kussing. Waar is my Mammie?  Uiteindelik kom haar "goeie more" boodskappie deur. Laat die antwoord maar bietjie wag anders wil sy weet:" Slaap jy dan nie?"

Wat is dit in ons menswees wat na jou ma verlang wanneer jy siek is? Al is jy al hoeka self iemand se ma, al hardloop die voetjies van jou kleinkinders agter jou aan en lees jy al lankal slaaptyd stories vir die wonder engelgesiggies. Wanneer jy siek is kan almal maar sê jy sal okay wees, dit beteken niks Jou hart verkramp bang in 'n hoekie om plek te maak vir 'n brawe glimlag. Tog is daar 'n klein stemmetjie diep binne wat vra: " Waar is my Mammie?"

Wanneer al die verf en spuitgoed, die botteltjies en kwassies weggepak is, wanneer ons hande te gedaan is om eers trane weg te vee, dan soek ons haar stemmetjie wat sê: "Sterk wees!" "Jy sal dit maak!", "Hou maar net aan!", "Rustig wees.", "Vertrou op Hom. Hy sal jou uithelp."

Na Al Hierdie Tyd

Nee, ek het nie depressie nie. Ek is sielkundig stabiel. Waarom kry ek soms sulke veraf oë wat niks raaksien nie? Ek dink maar net aan 'n plek en mense... wel, miskien is ek dalk siek in die kop.

Ek verlang na 'n land waar die boerbokke wei, dorpers en merinos geskeer word en waar die rooigrond se stof perfume maak met die eerste reën. Waar kakiebos en kosmos groei en doringboompies buig. Ek soek die kaal klippe en skaars stroompies.

Dis 'n plek wat besig is om te vergaan onder geweld, bedrog, haat en vrees, sê jy. Ja, maar daar is stoere goedheid in die donkerte wat heldeder skyn as die son. 
Dis 'n volk en 'n nasie wat verdwyn en vaag in die vog wegsak, sê jy. Tog glo ek dat daar altyd 'n boeretroos, biltong en Mammie se beskuit vir my sal wag.

Hou maar moed jy sal nog aanpas, sê hulle. Die nuwe land en sy mense sal op jou groei, hoor ek. Daar is plekkies in my, op my, waar oranje blanje blou ingekleur is
 Tyd sal jou laat inpas sê julle. Na meer as dertig kalkoen feeste en vuurwerke en te veel verkiesings om mee stap te hou, kinders en kleinkinders wat Engels praat en sneeu en donker winters en.... My hart word nog steeds warm met "Goeie more" en "Lekker slaap". ""Sterk wees" gee my moed. " Met my ou ramkiekie" is konings melodie.


Die maan lyk verkeerd en die son skyn uit die agterstevoor rigting. My are dra die bloed van Afrikanerdom. Wat dit sal wees en hoe dit sal lyk in die toekoms weet ek nie. Miskien is ek van lotjie getik. Miskien droom ek net. Maar een ding glo ek vas. Die boerevolk is taai. Afrikaners sal deurdruk en Suid Afrika sal altyd tuis vir my bly.

Sunday, November 5, 2017

En Dan is Ek Toeris

Vroegmore is daar ‘n wolk van mis wat oor die velde hang. Die son lyk soos die maan deur dit. Die groen word opgebreek deur roes-bruin, goud-geel en vlam-oranje. Dis warm maar vogtig.

Bosse blomme, geel en diep oranje pampoene toring uit by die padstalletjies. Mense loop rond in truie en stewels. Fiets ryers is orals. Mense stop langs die pad met hulle noodligte aan om gou uit te spring vir ‘n foto.
Die mielielande staan seker sewe voet hoog en boere markte gebeur nou amper elke middag. Die tannies het al klaar appel botter, salsa en piekels ingelê. Dis oestyd in die Noord Ooste.

Die son breek deur nader aan middagete. Dis goue strale en lank. Die kleure is soveel dieper. Selfs die blou in die waterpanne het ‘n dieper toon. Diere huppel en rol in die gras. ‘n Groot bruin perd met sokke aan sy voete kom stadig op uit sy rol.

Een keer ‘n jaar word ek ‘n toeris, word ek meegesleur met die berge in hul lappieskomberse. My karretjie staan ook met die noodliggies aan langs die klipmuur, langs die pad. Ek trap deur die bossies om die wit stam van die Birch bome tussen die goud en rooi by ‘n dammetjie af te neem. Die stofpaaie en heuwels lok my en reën beteken net mooier kleure. Haal diep asem die geur van herfs kom sit in mens se hart.

Ons stop êrens by ‘n rooi geverfde winkeltjie in ‘n dorpie in die berge. Daar is ‘n rooi huis-brug oor die rivier. Ons drink warm appelsap met kruie in. Dis hemels.

Dan kom daar ‘n klokkie van my foon. Die fotos wat inkom is van die pers en wit strate van die Jakaranda stad. Ek kyk na elke foto. Staar in honger verwesenheid na wat is, onthou wat was en kommer oor wat sal wees.

O liewe land.
 O harts land van my.
 Hoe breek my siel oor jou.
 Hoe naby aan die oppervlak dryf my verlange, my smagte na jou.

Thursday, September 14, 2017

"X" merk die plek.

Die goud het in die strale van die son ingekruip. Die dagsê kom laat. Hier en daar is ‘n voor op die wa boom alreeds aan die verkleur. Party het ‘n gelyke hoeveelheid geel en groen blare. Dis mooi. So hartverskeurend mooi.




Die aand begin vroeg. Middag sontrale trek lui die skaduwees lank uit. Die blou van die hemel is dieper, meer intens as somer. Op die luggie kom die aroma van vars gesnyde gras. Daar is ‘n pienk “X” in die lug.

Dis aan die oostelikke kant, oos maar ook suid. My hart wil-wil ‘n rafeltjie daaraan bind. Lank staar my siel daarna. Dit dui die pad aan vir my hart. Dit gee rigting aan my verlange. Verby die bebosde rante en valeie na die dorre aarde waar bome kaal hul vingers in die hemel in steek. Dis daar waar olifante heinings platrap agter ‘n bietjie groen aan. Dis waar apies agter jou inglip om vrugte te steel.

Uit die blou van onse hemel…

Die kruis in die lug roep my selfs hoër op, hoog verby windrigtings en die ewigge gemis. Verby die blou van die hemel met die pienk kruis.

“X” merk die plek. Dit merk die plek waar my hart will wees. Dit merk die rigting waarheen ek reis. Dit merk my skatkis veilig gebêre waar afstand nie meer sal wees nie. Daar waar dood nie meer sal skei nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.

Ek droom vandag...

Ek droom vandag in die helder, goue herfs son. Dis nie salige nag drome wat mens nie kies of kan beheer nie. Dis dagdrome wat kom soos sagte baba kombersies, omhels deur poeier geur. Drome tussen werk en bestuur. Drome wat hang soos duur parfuum.

Droom elke keer as ek verstom staan met die pragtige tonele wat my omring. Sulke mooi bome, stroompies in die berg. Daar is ‘n rooi toegeboude brug met ‘n waterval agter. ‘n Perdekarretjie in die grondpad. ‘n Ou omie met ‘n strooihoed hou die teug. Sy boepmagie druk sy denim blou borslap broek uit. Dis skildery mooi.

My hart en oog wil onthou, wil hierdie mooi bêre. Ek droom hoe Mammie en Paps dit sal geniet. Sien ek hul nou. Sy hou aan sy arm vas: “ Oe kyk net hoe mooi.” Later as ons op die rivier boot is sal hy miskien weer die rots formasies waardeer. Die plaas stalletjies met rye en rye orania pampoene en die goue wolke op die indigo lug sal hulle arms om mekaar bring.

Daar’s ‘n kafeetjie, ‘n eetplekkie of twee, drie, miskien vier. In my droom sien ek hulle die spyskaart lees. Paps vergaap hom aan die handgeskrewe swartbord lysie. Mammie verkyk haar aan die skilderye, lappies en goedjies op die mure. Droom, droom ek om hulle die mooi te wys. Om saam met hulle te swem, te bad in die siels verrykende mooi van herfs.

Miskien eendag. Ek hoop.


Sunday, September 3, 2017

Droogte en meer

Dit reën vanmore hier. Dis ‘n koue reën, oestyd se reën. Die mielies staan skouerhoogte en pampoene lê in die veld. Die bome se blare begin draai na roesbruin, koper en goud. Binnekort sal die vlamme van die kleure hordes hierheen trek soos die fotograwe en blomliefhebbers na Namakwaland toe bos.

Dit laat my dink aan droeë sandlope in die wildtuin waar bome kaal arm om genade pleit. Waar klippe skadubeddings maak vir groen blaartjies om skugter ‘n huisie te maak. Waar duikertjies in die lope skuil en olifante die elektriese heinings platloop.

Ek wonder wat daar is in die barre aarde, die stof op alles, wat so in ‘n mens se siel invaar. Is daar dalk ‘n chemiese reaksie wat die boere so taai en sterk maak? Waar kom daardie uithou en aanhou vandaan? Weer probeer, sterk wees, opstaan en aangaan?

Hoe diep is die wortels wat verby die hedige droogte van êrens diep ‘n watertjie trek. Hoog en sterk staan hulle. Die winde kom, die aanvalle, die politiek, die onlus en geweld. Uit die blou van onse hemel, uit diepste van ons see, van die ewige gebergte waar die kranse antwoord gee kom die krag en die sterkte want ons hoop en geloof is in U, o Heer.

Friday, August 25, 2017

My Bosveld Nessie

Daar is ‘n plek waar die kwêvoëls kwê,
Waar die kiewiete koor en die tortelduiwe vroeg, vroeg roep.
Daar is ‘n plek waar die patrysies en tarentale trop en duikertjies skugter loer.
Daar is ‘n plek waar kiepersols bos en koorsbome en korale pryk.

Daar is ‘n plek waar die stukkies van my siel, wyd verstrooid weer bymekaar kom.
Waar die verwarring van die warboel van die lewe tot stilstand kom.
Hier is baie spore in die sand maar dit maak sin.

In die vroee more, saam met die dierekoor hef ek my stem tot U wat alles hoor.

Ek gee U my verwarring, my kommer en seer, en vind rus, stilte en genoeg by U, O Heer.

Goeienag Soentjies

Haar velletjie het meer spoortjies as 'n wildsplaas pad.
Dis sag en dun en mens kan haar pols daardeur sien klop.
Ek gee haar 'n goeienag soentjie op haar wang.

Want êrens hier binne is daar 'n wete dat daar 'n tyd in die toekoms is wanneer ek gaan verlang.
Die verlange vir nog net een drukkie, een soentjie op haar ou wangetjie.
Haar ogies vol trane oor iets hartseer, haar lag en grap en skater.

Ag Mammie, kan jy nie maar vir altyd lewe nie.
Jy is nog op en wakker, jou stappie 'n bietjie stadiger.
Jou oë is beter as myne en jou hande vat raak al is party vingers krom.

Daar doer, baie ver in die toekoms hoop ek, is daar dae wat ek sonder jou hier op aarde sal moet aangaan.
Vir daardie dae wat kom bank ek.
Bank ek nie rande of dollars,  pennies of sente nie.
Ek bank drukkies en soentjies.
Ek bank die klokkies van jou skaterlag, die klank van jou stem en die vlug van jou vingers wat oor die klavers hardloop.

Erens in die toekoms sal daar 'n laaste goeienag soentjie wees en O Heer, hoe vrees ek daardie dag.



Monday, June 5, 2017

Moeg, Baie Moeg


Vanaand is ek moeg, moeg en gedaan. Dis nie die lekker moeg van ‘n lekker harde werkdag agter die rug met iets gedoen gekry nie. Dis ook nie die diep been moeg van te lank wakker bly nie, of die uitgetap van te lank met moeilike mense wees nie.

Nee, hierdie is ‘n moeg wat in jou siel gaan sit. Dis die moeg wat die hekke van innerlike ek laat buig en wiegel. Dis verby liggaam in jou siel in. Dis die gedaan wees wat mens laat wonder of die lewe werklik sin maak.

Hierdie uitgetap, gedaan wees lek uit die oe van die soldate na hulle basiese opleiding. Weerloosheid en staal, gedaan maar ook aangaan, by seer verby om weer op te staan, dis hierdie gevoel. My bekertjie is dolleeg.

Geen nag van slaap help meer nie. ‘n Vinigge koffietjie met ‘n vriendin en lag vir die manewales van die kleinkinders kan nie lig vir hierdie duister meer bring nie.

“Ek slaan my o”e op na die berge waar sal my hulp vandaan kom… Daar is ‘n plek van sielerus naby die hart van God… As ek sit aan Jesus voete…”

In my gedagte sit ek op die vloer langs Mammie se klavier. Sy speel en sing. Trane loop want die sluise van my siel het baie presiese sleutels. “O, stort dit uit in my siel…” Daar is ‘n vulstasie vir my leegheid. Daar is ‘n nessie, ‘n veiligheid waar die aanhou, uithou en aangaan nie nodig is nie. Hier hoef ek nie te glimlag as my hart huil nie. My koppie mag maar sak en my kniee buig. 

Tuesday, April 11, 2017

Die Morestond...

Daar is 'n ou Afrikaanse spreuk : die morestond het goud in die mond. Wat is die morestond? Wat is hierdie rykdom? Ek is seker dit kom van die plaaslewe af toe mensies moes baie vroeg opstaan en laat werk om al hulle dingetjies gedoen te kry. Mens prop nog steeds die dae so vol soos 'n suinigge tannie se reistas maar omdat ons so hardloop verlep ons gees van armoede. Nie 'n geld-armte nie. Nee, dis 'n armte van die siel.

Vroegmore, voor die son se strale alles goud verf, wanneer die voeltjies die dag uitnodig om te breek, is daar 'n oomblik wanneer die dag gebore word. Dis die oomblik wanneer die wonderwerk van nog 'n genade van Bo op ons neersak. Ons siel en gees verstaan bo ons denke die wonder wat dieper is as sien. Ja, ons sien die pynlikke mooi van die vroegmore skildery wat deur die donker takkies kom en die bloos van die dag op die seildoek van die nag. Ons hoor die deurmekaar partytjie van oogewonde voeltjies wie se gesange deurmekaar hardloop en mekaar uitdaag tot nuwe hoogtes. Ons ruik die klam gebak van die grond en die gras wat beloftes van lewe en goedheid aankondig. Miskien as ons voete kan, voel ons die bewing van die grond onder wat ditself wakker skud en opwindend bewe. Maar niks van die kan beskryf hoe die siel en gees die dag begroet nie.

Met die eerste vaalgrys van dagbreek en die eerste tortelduifie se koer kraak my siel die slaap se eier. My gees begin te dans. Van erens in my diepste wese kom daar 'n slaai, 'n bredie, van goedheid, hoop, heerlikheid, majesteit en die wete dat alles wat krom is sal reguit kom. My wese wil uithardloop in die bosse in om saam met die natuur in al sy volheid hierdie oomblik te vier. Dit wil bad en indrink van hierdie sekonde van ongefiltreede liefde. Die genot, Nee, dis dieper as dit... dis asof die snare van jou siel weer reg gespan word. Dis die spinnerakke van alles wat dof en donker is wat weggevee word.

Dit is alles in een oomblik, een vroee more oomblik. En dit, dit is die rede waarom ek vroeg opstaan. Waarom ek nie eers wil opstaan as ek deur hierdie oomblik geslaap het nie. Dis hierdie oomblik wat elke dag vir ons se dat dood nie oorwin het nie, dat liefde en genade seevier. Dis in hierdie oogwink dat die goddelikke inspuiting van skeppende genade ons siele intrek in Sy wonderlikke, almagtigge wese sodat ons deel word van Hom.

Thursday, January 26, 2017

Gly op die ys...



Dit het die hele middag al gesneeu. Die radio waarsku dat mense maar eerder van die paaie moet afbly. Na die paar duim sneeu, verwag hulle 'n ysstorm wat bo-op die sneeu sal kom sit. Die sirenes dring deur die koel lug. Erens het iemand in 'n ander of 'n reeling of boom ingegly.

My werk en my seun se werk is nie van die soort waar jy sommer tuis kan bly nie. Mensies wat nie ander hulp het nie steun op ons. Ons moet maar net uit en werk toe. Die nag is stil so in die sneeu. Geen diertjies maak n klank nie. Meeste mense is ook al waar hulle moet wees. Die straatligte het 'n waas van dynserigge kantgordyne  om hulle. Die kolle onder, net n vuil kol amper-wit sand op sneeu.

Ons gly uit die rylaan uit. Dis maar hoe dit gaan want die huis sit op 'n bult. Geen verkeer kom om die hoek nie. Ek is bly om die volgende uur, op pad werk toe, met my seun te kan kuier. Die bande is winter bande en veronderstel om vas te gryp. Ek vat dit maar stadig. Ons gesels lekker.

So twee blokke van die huis af gryp n reuse onsigbare hand my kar en spin dit agteruit. My voete kom instinktief af van die pedale en plat op die vloer terwyl uit my mond 'n kreet: " Lord Jesus! Help!"  Hy se niks. Gryp net na die dashboard. Ons spin in 'n groot sirkel. Ek kyk vir verkeer. Dankbaar daar is niks nie. Die gespinnery stop met ons dwars in die pad. Niks gestamp nie. Ek kom stadig met lam kniee aan die beweeg en bring die kar versigtig  weer op die regte kant van die pad. Hy blaas sy asem uit.

Ek hervat die gesprek. Hy maak my stil: "Konsentreer net op die pad." "My liefie", antwoord ek, "ek kan albei doen. Ek is mos 'n vrou." Maar vir die res van die rit is hy maar senuweeagtig. Keer hier, pasop daar en wys uit verkeer en gladde plekke. Hy het sy braaf regtig verloor.

Dit is soos wanneer ons die Here vertrou vir ons lewe maar erens begin dinge te lyk asof dit nie gaan uitwerk soos ons verwag het nie. Miskien is daar 'n gladde plek in die pad wat ons agteruit en in sirkels laat spin. Miskien gly ons in 'n gat en sukkel om weer uit te kom. Miskien is die belegging toe nou nie so vreeslik winsgewend nie. Miskien is die lewensmaat na 'n paar jaar meer soos 'n straf. Of miskien begin jou liggaam stukkie vir stukkie ingee. Wat ookal ons vrees, of waar ons nerf bietjie dun is, kan ons Hom steeds vertrou? Of probeer ons Hom nou voorskryf hoe om ons lewe te rig? Of selfs neem die wiel uit Sy hande uit?

Die profeet  het dit hoeka al gese: "Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe of olywe is nie, en die oes op die lande lewer niks op nie en al die vee vrek; .....
Nogtans sal ek jubbel in die Here. Ek sal juig in die God van my heil. Die Here, Here is my sterkte."

Thursday, January 5, 2017

Re"en

Mens ruik die natstof van ver af. Daar is geen ander reuk soos die in die wereld nie. Die beeste ruik dit ook. Hulle maal rond tot die rooi stof wolke word. Die altyd dorstigge aarde wag ongeduldig vir die vlaag en buie. Dit suig die water in soos n kind met n strooitjie. Gou-gou na die reen steek die eerste blaartjies op in vrome dankbaarheid. Selfs die voeltjies sing n nuwe lied.

Mens kan nie regtig reen waardeer as jy nog nooit in Afrika was nie. Net soos die weeskind n spesiale waardering vir die aanneem ouers het. Of die siel wat weggegooi was, verstote, verlate en weer n tuiste vind, desperaat daaraan klou. Vir n honger mens is elke bitter ding soet. Dors vra nie of die water skoon is nie.

Droee dorre aarde wat bars, wat dors na n druppel genade. Brandmaer koeie met ribbes wat aaklig deur die velle steek en boutbene wat bakhand vlerke om die stert waghou. Die windpompe en lee damme wat die verlate vlaktes bespikkel.

Daar is mos droogte in mens se siel ook. Dis n droogte wat smag na geliefdes, na wat bekend is. Om in die vreemde te smag na n ou-ou liedjie in Afrikaans. Om al die geure en kleure van koffie en tee te ervaar maar alles proe maar die goor selfde want jy verlang na jou ma se dun, goue randjie koppies met die blommetjies op. Dis om n bars in jou siel te he soos die damme waar die modder verander in n droee gebarste mosaik.

Mens smag na die lavenes van bekendes en bekendheid. Jou oe soek-soek na TV programme oor Afrika. In die stad luister jou ore vir daardie hemel taal. Miskien eendag hoor jy dit. En oomblikke later is julle nie meer vreemdelinge nie.

Reen op die sinkdak. Reen wat die grashalmpie se koppie laat buig. Reen wat met die morelied klip-klop, klip-klop aankom. Reen wat stof laat gaan le. Reen vir n dorstigge siel.

O Genade, bring tog seblief net n bietjie reen.