Sunday, December 17, 2017

Na Al Hierdie Tyd

Nee, ek het nie depressie nie. Ek is sielkundig stabiel. Waarom kry ek soms sulke veraf oë wat niks raaksien nie? Ek dink maar net aan 'n plek en mense... wel, miskien is ek dalk siek in die kop.

Ek verlang na 'n land waar die boerbokke wei, dorpers en merinos geskeer word en waar die rooigrond se stof perfume maak met die eerste reën. Waar kakiebos en kosmos groei en doringboompies buig. Ek soek die kaal klippe en skaars stroompies.

Dis 'n plek wat besig is om te vergaan onder geweld, bedrog, haat en vrees, sê jy. Ja, maar daar is stoere goedheid in die donkerte wat heldeder skyn as die son. 
Dis 'n volk en 'n nasie wat verdwyn en vaag in die vog wegsak, sê jy. Tog glo ek dat daar altyd 'n boeretroos, biltong en Mammie se beskuit vir my sal wag.

Hou maar moed jy sal nog aanpas, sê hulle. Die nuwe land en sy mense sal op jou groei, hoor ek. Daar is plekkies in my, op my, waar oranje blanje blou ingekleur is
 Tyd sal jou laat inpas sê julle. Na meer as dertig kalkoen feeste en vuurwerke en te veel verkiesings om mee stap te hou, kinders en kleinkinders wat Engels praat en sneeu en donker winters en.... My hart word nog steeds warm met "Goeie more" en "Lekker slaap". ""Sterk wees" gee my moed. " Met my ou ramkiekie" is konings melodie.


Die maan lyk verkeerd en die son skyn uit die agterstevoor rigting. My are dra die bloed van Afrikanerdom. Wat dit sal wees en hoe dit sal lyk in die toekoms weet ek nie. Miskien is ek van lotjie getik. Miskien droom ek net. Maar een ding glo ek vas. Die boerevolk is taai. Afrikaners sal deurdruk en Suid Afrika sal altyd tuis vir my bly.

No comments: