Wat 'n jaar!? Die afgelope 365 dae was glad nie maklik nie. My soeke na rigting was so intens dat my kop soms regtig gedraai het. Toe ek verlede jaar in Suid Afrika was het deel van my daar vasgehak en nie weer saam teruggekom nie.
Voorheen kon ek myself bepaal met waarmee ek besig was en myself nie toelaat om ver draaie te loop na die mooi bosse, riviere en berge van my tuisland nie. Voorheen kon ek myself sien oud word hier in die sneeu, en heuwels en alles Engels. Voorheen was daar net 'n vae seer binne-in my vir wat was maar nie meer kan wees nie. Voorheen was Afrikaans die taal van my kinderdae wat nie meer maklik op my tong gesit het nie. Voorheen kon ek myself geniet in die bosse hier, was die bome se name interesant en wou ek die voëltjies se liedjies leer. Voorheen was daar 'n mate van rus in hierdie vreemde land. Voorheen kon ek my trane inhou en bietjoe laat oorloop met 'n boodskappie of oproep. Voorheen kon ek die knop in my keel weggesluk kry. Voorheen was 'n drukkie van my kinders en kleinkinders genoeg. Voorheen ...
Maar terug in Suid Afrika in 2016 het iets uitgeval. Miskien was dit die deksel van my hart wat ek vir jare stewig vasgeskroef gehad het. Miskien was dit die wortels, wat ek geignoreer het, vanwaar my menswees groei. Miskien was dit die plooitjies en grys hare wat huistoe drang. Miskien was dit dat Mammie nie alles meer mooi onthou nie. Miskien was dit die soete gemeenskap van my maters. Miskien wil my voete nie meer in sneeu stap nie en verlang my tone na stof en doringboompies.
Hoe vind mens balans as jou voete nie meer wil dans op 'n dansvloer van nagemaakte hout nie? Waneer jy in stofpaadjies wil hardloop en na boeremusiek wil luister? Jy gryp-gryp na halmpies gras en soek na 'n hand om jou regop te hou. Dit werk vir so kort rukkie. Maar die grassies breek en die hand word moeg.
Jou siel is vlenters gebreek. Die stoere gesig wat jy al dekades hou en die glimlag wat nooit jou oë beryk het nie is toe net 'n masker. Dit is stukkend. Jy sukkel om dit weer reg te maak. Maar jou siel is ontbloot, die diep wond gewys. Waar is al die stukkies heen? Hier is daar nie meet 'n tuiste nie.
Met 'n diep verlange smag ek om te behoort. Vader se huis is my toekoms. Hierdie sal ook spoedig verdwyn. Dan sal daar nooit weer 'n verlange wees nie want dan is ek ewig tuis.

No comments:
Post a Comment