Sunday, December 17, 2017

Waar is my Mammie

Daar is plakkertjies ooral op my bors en rug. Draaitjies van daar af gaan in 'n draagbare rekenaartjie. My hand het 'n drup in en ek kan nie my eie nagklere dra nie. Elke paar ure kom doen hulle 'n ander toets. Die moeg wat van my tone opgestyg het, opgestyg het tot my kop in 'n tornado verander het, lê nou hier in my maag.

Die televisie raas vervelig aan. Al die goed is maar dieselfde: Geweld. Poletiek. Een of ander pratende kop. 'n Program wat vertel hoe wonderlik ons skepping is maar volgens hulle is daar geen Skepper noe. My kop draai. My selfoo  is onder die hoek van my kussing. Waar is my Mammie?  Uiteindelik kom haar "goeie more" boodskappie deur. Laat die antwoord maar bietjie wag anders wil sy weet:" Slaap jy dan nie?"

Wat is dit in ons menswees wat na jou ma verlang wanneer jy siek is? Al is jy al hoeka self iemand se ma, al hardloop die voetjies van jou kleinkinders agter jou aan en lees jy al lankal slaaptyd stories vir die wonder engelgesiggies. Wanneer jy siek is kan almal maar sê jy sal okay wees, dit beteken niks Jou hart verkramp bang in 'n hoekie om plek te maak vir 'n brawe glimlag. Tog is daar 'n klein stemmetjie diep binne wat vra: " Waar is my Mammie?"

Wanneer al die verf en spuitgoed, die botteltjies en kwassies weggepak is, wanneer ons hande te gedaan is om eers trane weg te vee, dan soek ons haar stemmetjie wat sê: "Sterk wees!" "Jy sal dit maak!", "Hou maar net aan!", "Rustig wees.", "Vertrou op Hom. Hy sal jou uithelp."

No comments: