Thursday, September 14, 2017

Ek droom vandag...

Ek droom vandag in die helder, goue herfs son. Dis nie salige nag drome wat mens nie kies of kan beheer nie. Dis dagdrome wat kom soos sagte baba kombersies, omhels deur poeier geur. Drome tussen werk en bestuur. Drome wat hang soos duur parfuum.

Droom elke keer as ek verstom staan met die pragtige tonele wat my omring. Sulke mooi bome, stroompies in die berg. Daar is ‘n rooi toegeboude brug met ‘n waterval agter. ‘n Perdekarretjie in die grondpad. ‘n Ou omie met ‘n strooihoed hou die teug. Sy boepmagie druk sy denim blou borslap broek uit. Dis skildery mooi.

My hart en oog wil onthou, wil hierdie mooi bêre. Ek droom hoe Mammie en Paps dit sal geniet. Sien ek hul nou. Sy hou aan sy arm vas: “ Oe kyk net hoe mooi.” Later as ons op die rivier boot is sal hy miskien weer die rots formasies waardeer. Die plaas stalletjies met rye en rye orania pampoene en die goue wolke op die indigo lug sal hulle arms om mekaar bring.

Daar’s ‘n kafeetjie, ‘n eetplekkie of twee, drie, miskien vier. In my droom sien ek hulle die spyskaart lees. Paps vergaap hom aan die handgeskrewe swartbord lysie. Mammie verkyk haar aan die skilderye, lappies en goedjies op die mure. Droom, droom ek om hulle die mooi te wys. Om saam met hulle te swem, te bad in die siels verrykende mooi van herfs.

Miskien eendag. Ek hoop.


No comments: