Sunday, September 3, 2017

Droogte en meer

Dit reën vanmore hier. Dis ‘n koue reën, oestyd se reën. Die mielies staan skouerhoogte en pampoene lê in die veld. Die bome se blare begin draai na roesbruin, koper en goud. Binnekort sal die vlamme van die kleure hordes hierheen trek soos die fotograwe en blomliefhebbers na Namakwaland toe bos.

Dit laat my dink aan droeë sandlope in die wildtuin waar bome kaal arm om genade pleit. Waar klippe skadubeddings maak vir groen blaartjies om skugter ‘n huisie te maak. Waar duikertjies in die lope skuil en olifante die elektriese heinings platloop.

Ek wonder wat daar is in die barre aarde, die stof op alles, wat so in ‘n mens se siel invaar. Is daar dalk ‘n chemiese reaksie wat die boere so taai en sterk maak? Waar kom daardie uithou en aanhou vandaan? Weer probeer, sterk wees, opstaan en aangaan?

Hoe diep is die wortels wat verby die hedige droogte van êrens diep ‘n watertjie trek. Hoog en sterk staan hulle. Die winde kom, die aanvalle, die politiek, die onlus en geweld. Uit die blou van onse hemel, uit diepste van ons see, van die ewige gebergte waar die kranse antwoord gee kom die krag en die sterkte want ons hoop en geloof is in U, o Heer.

No comments: