Thursday, January 26, 2017

Gly op die ys...



Dit het die hele middag al gesneeu. Die radio waarsku dat mense maar eerder van die paaie moet afbly. Na die paar duim sneeu, verwag hulle 'n ysstorm wat bo-op die sneeu sal kom sit. Die sirenes dring deur die koel lug. Erens het iemand in 'n ander of 'n reeling of boom ingegly.

My werk en my seun se werk is nie van die soort waar jy sommer tuis kan bly nie. Mensies wat nie ander hulp het nie steun op ons. Ons moet maar net uit en werk toe. Die nag is stil so in die sneeu. Geen diertjies maak n klank nie. Meeste mense is ook al waar hulle moet wees. Die straatligte het 'n waas van dynserigge kantgordyne  om hulle. Die kolle onder, net n vuil kol amper-wit sand op sneeu.

Ons gly uit die rylaan uit. Dis maar hoe dit gaan want die huis sit op 'n bult. Geen verkeer kom om die hoek nie. Ek is bly om die volgende uur, op pad werk toe, met my seun te kan kuier. Die bande is winter bande en veronderstel om vas te gryp. Ek vat dit maar stadig. Ons gesels lekker.

So twee blokke van die huis af gryp n reuse onsigbare hand my kar en spin dit agteruit. My voete kom instinktief af van die pedale en plat op die vloer terwyl uit my mond 'n kreet: " Lord Jesus! Help!"  Hy se niks. Gryp net na die dashboard. Ons spin in 'n groot sirkel. Ek kyk vir verkeer. Dankbaar daar is niks nie. Die gespinnery stop met ons dwars in die pad. Niks gestamp nie. Ek kom stadig met lam kniee aan die beweeg en bring die kar versigtig  weer op die regte kant van die pad. Hy blaas sy asem uit.

Ek hervat die gesprek. Hy maak my stil: "Konsentreer net op die pad." "My liefie", antwoord ek, "ek kan albei doen. Ek is mos 'n vrou." Maar vir die res van die rit is hy maar senuweeagtig. Keer hier, pasop daar en wys uit verkeer en gladde plekke. Hy het sy braaf regtig verloor.

Dit is soos wanneer ons die Here vertrou vir ons lewe maar erens begin dinge te lyk asof dit nie gaan uitwerk soos ons verwag het nie. Miskien is daar 'n gladde plek in die pad wat ons agteruit en in sirkels laat spin. Miskien gly ons in 'n gat en sukkel om weer uit te kom. Miskien is die belegging toe nou nie so vreeslik winsgewend nie. Miskien is die lewensmaat na 'n paar jaar meer soos 'n straf. Of miskien begin jou liggaam stukkie vir stukkie ingee. Wat ookal ons vrees, of waar ons nerf bietjie dun is, kan ons Hom steeds vertrou? Of probeer ons Hom nou voorskryf hoe om ons lewe te rig? Of selfs neem die wiel uit Sy hande uit?

Die profeet  het dit hoeka al gese: "Al sou die vyeboom nie bot nie, en daar geen druiwe of olywe is nie, en die oes op die lande lewer niks op nie en al die vee vrek; .....
Nogtans sal ek jubbel in die Here. Ek sal juig in die God van my heil. Die Here, Here is my sterkte."

No comments: