Thursday, December 28, 2017

Wat 'n Jaar!!

Wat 'n jaar!? Die afgelope 365 dae was glad nie maklik nie. My soeke na rigting was so intens dat my kop soms regtig gedraai het. Toe ek verlede jaar in Suid Afrika was het deel van my daar vasgehak en nie weer saam teruggekom nie.

Voorheen kon ek myself bepaal met waarmee ek besig was en myself nie toelaat om ver draaie te loop na die mooi bosse, riviere en berge van my tuisland nie. Voorheen kon ek myself sien oud word hier in die sneeu, en heuwels en alles Engels. Voorheen was daar net 'n vae seer binne-in my vir wat was maar nie meer kan wees nie. Voorheen was Afrikaans die taal van my kinderdae wat nie meer maklik op my tong gesit het nie. Voorheen kon ek myself geniet in die bosse hier, was die bome se name interesant en wou ek die voëltjies se liedjies leer. Voorheen was daar 'n mate van rus in hierdie vreemde land. Voorheen kon ek my trane inhou en bietjoe laat oorloop met 'n boodskappie of oproep. Voorheen kon ek die knop in my keel weggesluk kry. Voorheen was 'n drukkie van my kinders en kleinkinders genoeg. Voorheen ...

Maar terug in Suid Afrika in 2016 het iets uitgeval. Miskien was dit die deksel van my hart wat ek vir jare stewig vasgeskroef gehad het. Miskien was dit die wortels, wat ek geignoreer het, vanwaar my menswees groei. Miskien was dit die plooitjies en grys hare wat huistoe drang. Miskien was dit dat Mammie nie alles meer mooi onthou nie. Miskien was dit die soete gemeenskap van my maters. Miskien wil my voete nie meer in sneeu stap nie en verlang my tone na stof en doringboompies.

Hoe vind mens balans as jou voete nie meer wil dans op 'n dansvloer van nagemaakte hout nie? Waneer jy in stofpaadjies wil hardloop en na boeremusiek wil luister? Jy gryp-gryp na halmpies gras en soek na 'n hand om jou regop te hou. Dit werk vir so kort rukkie. Maar die grassies breek en die hand word moeg.

Jou siel is vlenters gebreek. Die stoere gesig wat jy al dekades hou en die glimlag wat nooit jou oë beryk het nie is toe net 'n masker. Dit is stukkend. Jy sukkel om dit weer reg te maak. Maar jou siel is ontbloot, die diep wond gewys. Waar is al die stukkies heen? Hier is daar nie meet 'n tuiste nie.

Met 'n diep verlange smag ek om te behoort. Vader se huis is my toekoms. Hierdie sal ook spoedig verdwyn. Dan sal daar nooit weer 'n verlange wees nie want dan is ek ewig tuis.

Sunday, December 17, 2017

Swart Eetkorinkies

Laaste blare klou desperaat aan die spoke vingers wat swart die blouste blou lug insteek. Winde wat asblikke omwaai het ook die vaal bruin blare in hope hope geblaas waar die heinings hoekies maak.  Hy het reeds twee grondboontjies in sy kieste. Sy swart vingertjies werk saam met sy tandjies om die een wat hy nou het uit die dop te kry. Sy lyfie bewe en sy bosstert krul. Hy werk so vinnig asof sy lewe daarvan afhang. Sy lewe hang voorwaar daarvan af. Binnekort sal niemand hier in die parkeerterein kom sit en grondbone vir die eetkorinkies gooi nie. Hulle sal almal in hulle huisies en woonstelletjies wegkruip vir die koue.

Hulle is meesters van voorbereiding. Die hele somer skarrel hullerond om op te gaar vr die koue tyd wat kom. Daar is geen debat, geen wonder, geen navorsing nie. Hulle weet net dat dit kom. Hoog in die bome, waar mensehand selde kom, maak hulle 'n huisie met 'n stoorlamertjie. Wie sê vir hulle: " Die winter kom. Maak gereed?" Hoe weet hulle om heel somer okkerneute, grondboontjies en selfs die bolle van blomme weg te bêre? Of praat dieselfde Hemel Vader met ons almal maar eetkorinkies luister net beter.

Grys dae. Winter. Tye waar een-voet-voor-die-ander 'n oorwinning is. Dit kom in elke lewe. Party hoor die waarskuwing en maak gereed. Die fondasie word verstewig. Emosionele sterkte opgestoor. Liefde uitgedeel soos soetkoekies. Genade uitgestort soos reën. Ons gooi die net ver en wyd, vang al die "memories" wat ons kan, vir later. Daar is sulke wonderlike hulp vir onthou, in fotos.

Maar daar is ook voorbereiding vir die donker koue dar in ons siel en gees. "Leer maar Sy weë wanneer jy jonk is,"  staan geskrywe, " voor die ongelukkigge dae kom wasrvan jy sal sê: " Hiervan hou ek glad nie." "

Waar is my Mammie

Daar is plakkertjies ooral op my bors en rug. Draaitjies van daar af gaan in 'n draagbare rekenaartjie. My hand het 'n drup in en ek kan nie my eie nagklere dra nie. Elke paar ure kom doen hulle 'n ander toets. Die moeg wat van my tone opgestyg het, opgestyg het tot my kop in 'n tornado verander het, lê nou hier in my maag.

Die televisie raas vervelig aan. Al die goed is maar dieselfde: Geweld. Poletiek. Een of ander pratende kop. 'n Program wat vertel hoe wonderlik ons skepping is maar volgens hulle is daar geen Skepper noe. My kop draai. My selfoo  is onder die hoek van my kussing. Waar is my Mammie?  Uiteindelik kom haar "goeie more" boodskappie deur. Laat die antwoord maar bietjie wag anders wil sy weet:" Slaap jy dan nie?"

Wat is dit in ons menswees wat na jou ma verlang wanneer jy siek is? Al is jy al hoeka self iemand se ma, al hardloop die voetjies van jou kleinkinders agter jou aan en lees jy al lankal slaaptyd stories vir die wonder engelgesiggies. Wanneer jy siek is kan almal maar sê jy sal okay wees, dit beteken niks Jou hart verkramp bang in 'n hoekie om plek te maak vir 'n brawe glimlag. Tog is daar 'n klein stemmetjie diep binne wat vra: " Waar is my Mammie?"

Wanneer al die verf en spuitgoed, die botteltjies en kwassies weggepak is, wanneer ons hande te gedaan is om eers trane weg te vee, dan soek ons haar stemmetjie wat sê: "Sterk wees!" "Jy sal dit maak!", "Hou maar net aan!", "Rustig wees.", "Vertrou op Hom. Hy sal jou uithelp."

Na Al Hierdie Tyd

Nee, ek het nie depressie nie. Ek is sielkundig stabiel. Waarom kry ek soms sulke veraf oë wat niks raaksien nie? Ek dink maar net aan 'n plek en mense... wel, miskien is ek dalk siek in die kop.

Ek verlang na 'n land waar die boerbokke wei, dorpers en merinos geskeer word en waar die rooigrond se stof perfume maak met die eerste reën. Waar kakiebos en kosmos groei en doringboompies buig. Ek soek die kaal klippe en skaars stroompies.

Dis 'n plek wat besig is om te vergaan onder geweld, bedrog, haat en vrees, sê jy. Ja, maar daar is stoere goedheid in die donkerte wat heldeder skyn as die son. 
Dis 'n volk en 'n nasie wat verdwyn en vaag in die vog wegsak, sê jy. Tog glo ek dat daar altyd 'n boeretroos, biltong en Mammie se beskuit vir my sal wag.

Hou maar moed jy sal nog aanpas, sê hulle. Die nuwe land en sy mense sal op jou groei, hoor ek. Daar is plekkies in my, op my, waar oranje blanje blou ingekleur is
 Tyd sal jou laat inpas sê julle. Na meer as dertig kalkoen feeste en vuurwerke en te veel verkiesings om mee stap te hou, kinders en kleinkinders wat Engels praat en sneeu en donker winters en.... My hart word nog steeds warm met "Goeie more" en "Lekker slaap". ""Sterk wees" gee my moed. " Met my ou ramkiekie" is konings melodie.


Die maan lyk verkeerd en die son skyn uit die agterstevoor rigting. My are dra die bloed van Afrikanerdom. Wat dit sal wees en hoe dit sal lyk in die toekoms weet ek nie. Miskien is ek van lotjie getik. Miskien droom ek net. Maar een ding glo ek vas. Die boerevolk is taai. Afrikaners sal deurdruk en Suid Afrika sal altyd tuis vir my bly.