Tuesday, December 20, 2016

Niks maklik in die Winter.

Niks is maklik in die winter nie. Laat herfs kom die ys. Dit sit op alles en skitter in die vroeee more-son, blinkertjies op rooi, geel, roes en vuurvlam blare wat net minute bly. Groen gras lyk grys en wat swart is, is glad.

Vroegmore moet ek roer om die ys van die kar se ruite te skrap. Vergeet om handskoene aan te trek is pynlik. Die sole van my skoene is 'n probleem maar ek is al klaar moeg van stewels dra...... Hoe moet 'n dame altyd haar skoene in die kleedkamer aantrek want dis stewel weer....  Die eerste sneeustorm word met die opwinding van 'n staatsbesoek of winterparade verwag.  Die winkels word oorhardloop soos mense melk, brood, koue vleis, kaas en water koop. Almal word weerprofete. Vreemdes vra uit oor ys, sneeu en temprature. "Hoe lyk dit daar buite vandag?"

Jasse, baadjies, mussies, handskoene, serpe, stewels.....  Sneeu is so mooi as dit val. Dit wieg-sweef af aarde toe soos 'n miljoen donsvere. Die bere het die regte idee, eet jouself trommeldik en slaap die winter om. Dit neem soveel tyd en energie om gereed te maak om uit te gaan dat mense nie regtig wil uitgaan nie. Nuwe sneeu sit op heinings, bome  posbusse soos die koekversiersel by kerkbasare. Baie huise se verhitting is houtstowe, kaggels of olie "boilers". Hitte is meer gesog as spookasem op die jaarlikse skou. Ekstra vensters word oor die ander vensters geskroef. Grys dae sonder son word donker voor die middag om is.

Vlieg ver in my dagdrome na warm suiderson, buffelgras en stofpaaie; klonkies en hul donkies, ander met draadkarretjies met politoer blikkies vir wiele. In my oor die tale, baie tale wat ek nie verstaan nie maar tog bekend in hulle ritme en melodie. Houtvure wat vroee more kom op die Laeveld lug en my aanmoedig soos Moedertjie se hand op my skouer.

Sop en bredie, gebak van alle geure en kleure. Die morelug, koud en vars, vertel van pasteie, spek, eier en kaneel. Boeretroos in bekers. Kaggelvure. Sagte musiek oor die radio. Dis nog skemer buite en die sneeu kraak. Ons gaan nou jag want niks is maklik in die winter nie.

No comments: