Die foon styf vasgedruk teen my oor loop ek die kombuisdeur uit. Selfs die geraas van die lopende kraan is te veel. My hele wese kraak in my poging om te luister na wat sy se maar, op die end is dit net die toon en buiging van haar stem wat haar wense oordra. Dit klink soos: "Ek is moeg en gedaan en kannie meer aangaan nie." Die laaste woorde kom helder en duidelik in my oor, my hart. "Ek is vreeslik baie, baie lief vir jou." Snikke, 'n kreet breek los in my want ek weet dis die laaste keer wat ek haar stemmetjie hoor. Tyd!!!! As ons net meer tyd gehad het.
Mens moet werk, 'n lewe verdien. Daar is skottelgoed om te doen, wasgoed te was, 'n huis om skoon te maak, kos te kook. Take soos inkopies doen, motor diens of laat was, selfs tandaards of dokter toe gaan. Die dinge wat mens dink saak maak soos kuns musiek fiesiese oefeninge.... Dit frustreer my want dit voel so nutteloos, so doelloos, so..., so mors van tyd.
Vier kort daggies het baie gou verby gevlieg en later sal ek bitter spyt wees dat ek dit nie maar bietjie meer uitgerek het nie. Elke minuut saam probeer ek in my geheue inbytel. Diep asem tuie om die aroma te onthou. Die kleure, die klanke, onthou. Asof ek swat vir 'n eindeksamen vir my siel. Ons was na aan trane die aand voor ek weg is. So baie dinge om nog te se en so baie vragies nog te vra... Daar was nie tyd nie.
Ek wil teruggaan dertig, veertig jaar terug. Die dae wat verwyl was met kommer, vrees en bitter haat van my jeug gaan optel, bymekaar maak. Dis tyd, kosbare tyd. Tyd om met die mensies wat ek liefhet te spandeer. Tyd om te luister. Tyd om stil-stil saam te wees. Tyd om lief te he. Tyd om mooi dinge te doen en se. Tyd om vreugde en lig te bring. Tyd, ag, net nog 'n bietjie tyd.
Daar is 'n vae troos in die belofte van ewigheid. Die ou kerkliedjies wat vertel van dae sonder end in die hemel word nou vir my dierbaar. Drome oor hoe ons nooit weer sal totsiens "se" nie. Op die strate van goud, langs die ewigge rivier.... sal daar genoeg tyd wees? Ek hoop so. O Meester ek hoop so.

No comments:
Post a Comment