Fushia is die kleur, ek dink.
Gesiggies gedraai na die son, die harde son.
Voeltjies gaap en val amper van die stokkies af.
Die rose verlep.
Dahlias en Angeliere het lankal die stryd verloor.
Doringboompie, Frangipani, Magnolia en Koorsboom staan dapper regop op parade.
Bosveld gras droog en geel waai in die wind.
Sand, stof en klippe.
Harde son bak, bak die blare af, die bas af.
Genadeloos.
Sonder belofte van verligting.
Harde son.
Hoe pragtig kom hul almal op.
Blomme van alle kleure en geure.
Solank dit reen.
Solank die sonnetjie tussen die wolke wegkruipertjie speel.
Solank die grond vriendelik nat is en die voeltjies in die plassies speel.
Blom-mens kom deur die skemer loer.
Ogies groot, vel lig en lippe vol.
Skugter lag die tieners, mooi en sterk en jonk.
Rooskinders met mooi huise waar selde trane loop.
Angeliere vol plesiere en genot.
Doringboompie seuns leer rugby, krieket en golf, praat met pa oor die Effektebeurs.
Orgidees, Gesiggies, Magnolias... almal so pragtig, so kosbaar.
Af langs die stofpad, naby die rivier is waar Alwyne, Plakkies en Vyggies staan.
Waar drank goedkoop loop en onmenslikke wreedheid armoede onderstreep.
'n Paar Vyggies groei in die stad, in die pastorie maar, hulle het lankal geleer om soos rosies te staan.
Vyggies staan wortels diep.
Rosie gooi wortels wyd.
Vyggies hou die water vas.
Rosies speel en lag en plas.
Vyggies klou en bly maar laag.
Rosies klim al hoer en hoog.
Harde son kom.
Wolkies vlug.
Barre aarde.
Vuurwarm grond.
Kaal, kaal klippe.
Genade!
Lewe!
Ag, Vader help!
Rosie mensie struikel en val, val en val;
tot net die stokkie bruin en alleen, droog in die akkertjie staan.
Vyggies draai hul gesiggies na die son, die harde son.




