Saturday, June 27, 2020

As jou huwelik gebreklik is...

As jou huwelik gebreklik is...

Natuurlik is nie alle kinders dieselfde nie. Party is natuurlik baie gehoorsaam, ander is baie stout. Party is intelligent,  of kunstig, of musikaal, of fiesies aangewese vir sport. Moeders kom by  mekaar en gesels oor hulle kroos. Die mylpale van gewone kinders is reuse oorwinnings vir die gebreklikke kind. Die toekoms lyk ook anders vir die outjie wat drie keer harder moet werk  om te behaal wat meeste kinders maar soos asemhaal leer doen.

Waneer 'n ma 'n gebreklikke kind het kom daar 'n tydperk van rou wanneer mens besef dat daar iets kort kom met die kind. Daar kom 'n tyd van woede, van magteloosheid, van die behoefte om te vlug maar ook uiteindelik 'n plek van aanvaarding. Die kaarte wat vir jou gedeel is, word gespeel.

Meeste mense het genade en simpatie vir gebreklikke kinders en hulle ouers.

Maar wat nou gemaak as jou huwelik gebreklik is?

Net soos met kinders as mens ten minste twee armpies en twee beentjies met tien vingertjies en tien toontjies verwag, is daar 'n redelikke verwagting dat wanneer twee mense met mekaar trou daar liefde vir mekaar is. Maar wat as een van hulle al die liefde op self spandeer sodat daar niks oor is vir enige iemand anders nie?

Ons lees die verhale, ons kyk die films en ons droom van romantiese eindes. Eindes aan ons eensaamheid en alleen wees, maar wat as die huwelik jou verlate, eensaam en afgesonder los? Mense dink dat as die paartjie vir 'n lang tyd getroud bly dat daar liefde, getrouheid, kommunikasie en respek is. Maar wat as daar skaars omgee, selfsugtigheid, woede en afjakke is? Wat as die woede uitbarstings van 'n autistiese kind 'n paar dinge kan leer van jou eggenoot se ontploffings?

Hoe kom 'n mens reg wanneer dames by mekaar kom met hulle tee en handwerk en gesels oor die hartklop in hulle lewe?  Hulle spog met hulle goeie man se koffie aandra in die more of die nuwe kombuis kaste wat hy besig is om te installeer of dat hy haar elke dag bel wanneer hy uitstedig is vir werk. Maar in jou gebreklikke huwelik weet jy nooit waar hy is of waarmee hy besig is nie. Jy durf nie vra nie want hy sal ure daaroor skreeu. Hy het laas vir jou iets aangedra op julle wittebroods en dan ook net om vir jou te wys hoe hy dit gedoen wil hê. Hy sal jou eerder vertel hoe onnosel jy is om nuwe kombuis kaste te wil hê, al is die huidigge kaste twee eeue oud. Jy probeer wegraak in die gesprek net soos die mamma van die gestremde kind. Hierdie mylpale bestaan nie vir jou nie. Dis 'n reuse oorwinning as jy dit deur 'n dag maak sonder 'n afjak of neerhalende aanmerking van hom af. 'n Dag sonder sy geskreeu en geklap is 'n goeie dag. Wanneer hulle die verjaarsdag geskenke wys en die juwele skitter, dan wonder jy hoe hard hy jou sal moet slaan voordat jy so iets kan verdien.

Wanneer jou huwelik gebreklik is laat radio en TV programme oor die pad na 'n beter huwelik jou huil want jy sal bly wees met 'n gewone huwelik, iets normaal. Jy het lankal die greep op jou drome laat gaan. Jy kyk nie meer na Hallmark kaartjies nie of ruik aan die blomme kerse of parfuums nie. Jy vermy romantiese plekke en dinge. Jou verwagting is baie laag. Jy bid nie meer vir 'n mooi toekoms nie. Jy vra maar net om te oorleef.

As jou huwelik gebreklik is leer jy dinge anders doen. Dit lyk dalk lomp en onbeholpe vir ander want hulle doen wat jy doen met grasie en gemak. Hulle kommer oor probleme met verrassings partytjies en planne vir vakansie. Jou kommer is om tog vandag nie 'n voet verkeerd neer te sit nie. Hulle vrees dat hulle eggenoot dalk te vroeg sal sterwe terwyl jy diep binne in jou, in die geheim, bid dat  daar gou 'n einde hieraan moet kom en jy gee glad nie om wie se dood dit sal bring nie.

No comments: