Thursday, July 23, 2020

KROON HARE


Dit was net nadat my kleindogter, Jane, se skool toegemaak het as gevolg van die wêreldwye vrees-storm. Jane was die dag met haar ma, wat toe nog gewerk het. Hierdie was een van haar af dae.

Toe ek in my kamer inloop was daar net hare op die bed en vloer. Daar was hare op die spieëltafel en bedkassie. En Jane het snik-snik verduidelik dat sy haar eie hare per ongeluk met haar "safety scissors" gesny het.

Ouma het maar getroos en haar laat regop sit op 'n hoë stoeltjie in die kombuis. Ouma moes maar mooi sny om die koppie te probeer red. Sy het nie te sleg gedoen nie. Die agterkant was so plek, plek 'n duim korter en voor het sy nou 'n lang kuif.

Toe ek nadat alles gekalmeer het, haar vra hoekom sy dit gedoen het, sê sy net dat sy moeg was vir die hare in haar gesig.

Dit verstaan ons tog almal.

Ons haarkapster, wat nou bykans 35 jaar al ons hare sny, het haarself afgesonder omdat haar man een of ander immune siekte het. So loop ek toe maar die eerste maand totdat ek soos "Sannie gaan weeshuis toe" lyk. My vriendin sê eendag so in die middle van kuier random die kombuis tafel: Ruth kan jou hare sny. Nog voor ek kan ja of nee sê het sy klaar haar man uit die kombuis geboender met, "dis vrouens goete".

Ruth knip baie mooi maar sukkel so bietjie met die agterkant. En ons besluit om dit maar daar bietjie langer te los. Net solank dit uit my gesig uitbly.

So groei my hare saam met al die vrees pandemonium se geskreeu en gekerm oor dit en dat. Daar is betogings in baie stede. Dit kan ek amper verstaan want ons almal lyk soos bank rowers met die gesig maskers aan. Dit word warm en bedompig en die betogers brand plekke af, steel net wat hulle wil en skreeu op die polisie. In plaas van om die malheid te stop blameer die poltieke mense dit op die president, en dit word baie warm.

So na nog 'n maand loop my man nou al met sy wit hare in 'n poniestert. My hare is slierte en dit warm. Een sondagmiddag staan ek voor die spieël en sny net so bietjie af, want dis warm. Dis ongelyk en ek sny nog meer, en meer en meer... My kroon haarstyl is baie korter as wat dit ooit voorheen was, maar ten minute is dit nie meer slierte nie.

Want dis bedompig, warm en daar is vrees siekte wat mense gek maak. Ons sal volgende jaar weer better lyk.

No comments: