Liewe Ou Suid Afrika, Ek mis jou.
Vandag moes ek ver pad ry vir 'n Suid Afrikaner. Amerikaners dink nie dat twee ure op die pad is ver nie. Die pad was mooi want dit is baie bebos hier en die herfs tooi die bome is so baie mooi kleure.
Dis laat in die herfs en die son se strale begin vroeg al lank word en die goud van winterson verf elke blaartjie met helderheid wat die somer son nooit kan by kry nie. Die somer son is silver en die herfs son, winter son, is goud. Die hout rook van die kaggels en houtstowe vul die lug met die asem, die geur van tuis. Daar is 'n bitter koue wind wat die droee blare laat sing. Die baritone en alt dreun in die bosse en die voeltjies bring die soprane en tenore. Waar kom hierdie diep verlange vandaan?
Ek verwag die klontjie op sy donkie om die draai. My oog soek vir die Afrikaans op naam borde en erens, vandag, het ek gedink aan die blou-rooi-en-wit padtekens. Kan daar nie maar net 'n pad stalletjie wees waar ek biltong en koeksisters kan koop nie? Of miskien op een van hierdie houthuise se mooi stoepe kan sit met 'n koppie boeretroos en ouma se karringmelk beskuit.
Hier loop my hart sulke lang draaie. Weemoed vir 'n plek ver weg... nie net in kilometers nie maar ook in tyd. Tye toe ons nog kaalvoet in die rooigrond van die Hoeveld kon loop en grashalpies tussen ons tande kou. Die tortel duiwe hier is 'n aardigheid, daar was dit die alledaagse. Hier loop die bokkies, kalkoene, eetkorinkies en muishonde wild rond, maar my hart verlang na meerkaaie en bloukop koggelmanders en voels wat 'n simfonie sing, nie 'n kwarted nie.
Ek weet dis pers tyd in Pretoria en in die Laeveld blom die bome in rooi en geel en pienk. Donderstorms bring die nat-stof geur en die lied van die nag word onderbreuk deur valse note van skote wat inbreek op die vrede.
Ag, hoe kan ons dit ooit weer herwin? Is die dae van onskuld vir ewig verby?
Hoe plak ons die eierdoppe weer bymekaar en genees die roosknoppie met die blaartjies gekneus en stukkend, verstrooi?
Maar die grootste droefheid kom nie in woorde nie maar die weemoed wat daar staan in die oe van blou en groen en bruin. Jare van moegheid, leed en pyn, Angs en 'n kreet van wanhoop. Foto's spreek soos boeke van seer.
Ek slaan my oe op na die berge... dis nie die regte berge nie tog ego dit my kreet... waar sal onse hulp dan vandaan kom? Here, U alleen weet!


No comments:
Post a Comment