My Hart Loop Soms Ver Paaie
Wanneer die winter toesak op die noordelikke dele van Amerika doen dit 'n behoorlikke werk daarvan. Teen Oktober begin ek die paniek van die afwagting van die eislikke koue al voel. Mens pak jou somer klere weg en haal die dik jasse en baadjies uit. Jy maak seker dat serpe en hoede en handskoene reg hang by die deur. Die dik komberse kom uit die kasse en die lugversorgers word weggepak.
Ek probeer altyd bietjie weg hardloop van die realiteit van winter. Die mooi van die herfs hang in die lug maar dit bly net vir 'n paar weke. Die angs om die prag in te neem, neem my voete op baie ver paaitjies. Ons stap in die bosse met ons kameratjies soos toeriste op soek na die wonders van die plek. Ons trek ons asems diep in om die vars bosreuke van herfs vas te vang in ons geheue want Winter kom en Winter is lui. Winter karring soms vir ses maande aan.
Die swart en grys eetkoringkies, wat ek uit die venster van die tweede vloer van die gebou by die werk dop hou, hardloop rond asof daar geen more is nie. Hulle kieste is rond van die neute en sade wat hulle vir die koue maande opgaar. My hart wil dit ook doen. Daar is baie mooi plekkies wat ek wil onthou. Daar is baie geure wat ek wil suiwer, oor en oor. Daar is die stemmetjies wat my oor na smag soos die koer van die tortelduif in Koster se begrafplaas.
Die Winter is koud en ongemaklik. Alles kos dubbel die energie as in enige ander tyd. Daar is ys en sneeu op die voorruit in die more wat ek moet afskraap voordat ons in die pad kan val. Die dae bly soms vir weke grys en voggerig en goor. Die bere het die regte idee; eet jouself tot jy dik is in die herfs en dan slaap jy in 'n grot tot die weer verbeter.
Ons krap maar weer die boeke uit wat ons nog wou gelees het. Die prentjies wat ons nie tyd gehad het om te skilder in die sonnigge seisoene nie, kry nou ons aandag. Die lekker warm sop kleur die huis met lekkerbek geure. En ons dra drie, nee, vier hemde om die ysigheid uit te hou. Maar my hart is nie hier nie.
My hart sukkel om in die hede te bly. Dit loop sulke lang draai. Daar is rooi grond in my hart en hout vure se rook. Ek hoor die klonkies sing terwyl hulle die donkiekar aanjaag. Erens is daar 'n ritmiese gesang en tale wat deurmekaar vloei om 'n tapestrie van geluide te vleg. My oor soek vir 'n woord, net een, wat bekend is. Kan daar erens vandaan deur die duisende myle 'n geluid, 'n klank wees wat spreek van huis.
My oom Hansie se gebed kom van erens in die laaitjies van my gedagtes. Daar is melktert op die tafel en rooibos tee in my koppie. Doringboompies waak oor geel grasse. 'n Windpomp sing 'n ritmiese lied.
Koue grys maande stuur my hart weg van hier, ver weg na 'n land met baie tale en droee velde. Na 'n plek waar ek, ek kan wees.


No comments:
Post a Comment