'n Pragtige Waarskuwing
Sondag more het ek 'n gemeente van 'n ou vriend besoek. Die jong man wat die diens geopen het, het sy liefde vir die herfs seisoen so uitgedruk: "I think in heaven, it will always be Fall; no summer heat or winter cold, just Fall."
Daar is iets in die koel, vars lug van die herfs wat my gedagtes draaie laat loop. Die seisoen is eintlik baie kort, vier of ses weekies lank. Ek hou van lang paaie ry. Daar is nog plekke waar die stof paaie deur die heuwels kronkel en die bosse en bome so ongelooflik mooi is. Die klip mure, bruggies, houtheinings en plank skure staan soos versierings op hierdie lieflike koek. Mens se oe wil net kyk en kyk en na 'n rukkie klink al die "ooeee" en "aaahhh" ook leeg.Soms vroeg in die more is daar mis op die pad en heuwels. Die son lyk soos 'n gloeiende maan en die bome steek hier en daar hulle geel en vlammende koppe uit. Die dae word korter en die son se strale lyk of hulle lank en vol goud is. Die geur van vars houtvuur dwarrel deur die lug en mens word 'n koppie warm, gespysineerde appelsap aangebied.
Hierdie mooiste lieflikste seisoen met al die getooi en tradissies kom as 'n boodskapper. Dis bring die waarskuwing dat winter kom. Dis nie die winter soos in Suid Afrika nie. Nee, die herfs se temprature is soos winter in die Laeveld. In die winter leef ons in ys en sneeu en temprature wat onder vriespunt is meeste van die tyd. Ons dra swaar stewels met goeie sole sodat ons op ons voete kan bly en trek baie lae klere aan met mussies en handskoene en serpies om ons van die koue te beskerm. Ons vervang die bande op ons motors en party sit spesiaale bande met metaal pennetjies aan. Ons koop sout en sand gemeng om op die paadjies te strooi om die ys te smelt. Ons bly binneshuis en hardloop maar net gou-gou waar ons net moet gaan... dis behalwe die brawes wat stukke hout aan hulle voete vasmaak en teen nekbrekende spoed teen die berge afjaag. Die dae word vreeslik kort en die kinders gaan skool toe in die donker en kom in die donker weer terug. Party dae is die dag ook so vaal donker en bewolk en dit kan vir weke so aangaan.
Niemand word kwaad vir herfs omdat dit met al die mooi ook die onderliggende boodskap dra dat die koue, ys, sneeu en donker dae kom nie. Ons wens nie dat herfs moet wegbly nie, ons verwelkom dit.Net so is die boodskappers wat vir die wereld die blye boodskap bring dat ons nou ook vrede met God kan he want Hy het Sy seun in ons plek gestuur. Ons kan 'n vol wonderlikke lewe he wat hierdie dinamiese verhouding met 'n liefdevolle, gawe God insluit. Daar is liefde, daar is volheid, daar is wysheid, daar is verlossing en genesing. Die wondere van die fantastiese lewe wat moontlik is in 'n verhouding met God deur Jesus Christus gebruik al my woorde op.
Tog is daar ook in al hierdie mooi, in al hierdie liefde 'n waarskuwing. Die wat besluit om Hom te ignoreer, die wat besluit om teen Hom te kies, vir hulle wag 'n lewe van swaarkry sonder hulp, van huil sonder 'n teenwoordige skouer en 'n ewigheid in donkerte en smart.
Dis herfs nou, maar winter kom.
No comments:
Post a Comment