Sunday, December 19, 2021

Windpomp wieletjie

Ek hang 'n klein windpomp wieletjie aan die kersboom. Buite dans die sneeuvlokkies soos verlore wit veertjies in die donker neer.  Dis nog middag maar reeds donker. Die liggies op die stoep gesels met die bure se liggies oorkant die straat. Die windpomp wieletjie weerkaats die goud van die engeltjies, balletjies en musiek instrumentjies. Die liggies wat in die vars denneboompie ryg, flikker aan en af. Die geur meng met die aroma van outydse soetkoekies van die kombuis. My hart kramp binnein my. Dis koud buite, warmer binne. Dis stil hier vanaand. More kom al die kinders en kleinkinders. Die skaapboud week reeds in die bier. Pakkies vergader rondom die boom se romp. Ek staan terug om my handewerk te weeg. Moeg het ingetrek in my siel in. Moeg van hierdie lewe op twee kontinente. Nooit is daar alles van my op een plek nie. Daar is die ewigge verlange, die pyn, die knoop. Troues wat ek alleenlik met fotos bywoon. Begrafnisse waar ek oor die foon saam huil. Ek kyk na die windpomp wieletjie, verby die windpomp wieletjie, deur die venster, na buite. Daar bloos die beboste randjie in die silwer volmaan. En verlange kruip oor in 'n wens. Ag, die wens is nie eers om daar te wees nie. My hart pomp nou en vir ewig: " Oranje, Blanje, Blou." Die wens is maar klein en tog... Kan hierdie pyn net ophou? Wil ek hieroor praat? Met wie sal ek kan praat? Wie wil dit hoor of verstaan? 'n Bodemlose put in my siel... Ek slaan my oë op na die berge waar sal my hulp vandaan kom? Die windpomp wieletjie wieg saam met sy engeltjie. Iemand, buite in die straat, sing : " We wish you a Merry Christmas" My hart kramp. "By the Rivers of Babylon". 'n Sug.

No comments: