Sunday, December 19, 2021

Windpomp wieletjie

Ek hang 'n klein windpomp wieletjie aan die kersboom. Buite dans die sneeuvlokkies soos verlore wit veertjies in die donker neer.  Dis nog middag maar reeds donker. Die liggies op die stoep gesels met die bure se liggies oorkant die straat. Die windpomp wieletjie weerkaats die goud van die engeltjies, balletjies en musiek instrumentjies. Die liggies wat in die vars denneboompie ryg, flikker aan en af. Die geur meng met die aroma van outydse soetkoekies van die kombuis. My hart kramp binnein my. Dis koud buite, warmer binne. Dis stil hier vanaand. More kom al die kinders en kleinkinders. Die skaapboud week reeds in die bier. Pakkies vergader rondom die boom se romp. Ek staan terug om my handewerk te weeg. Moeg het ingetrek in my siel in. Moeg van hierdie lewe op twee kontinente. Nooit is daar alles van my op een plek nie. Daar is die ewigge verlange, die pyn, die knoop. Troues wat ek alleenlik met fotos bywoon. Begrafnisse waar ek oor die foon saam huil. Ek kyk na die windpomp wieletjie, verby die windpomp wieletjie, deur die venster, na buite. Daar bloos die beboste randjie in die silwer volmaan. En verlange kruip oor in 'n wens. Ag, die wens is nie eers om daar te wees nie. My hart pomp nou en vir ewig: " Oranje, Blanje, Blou." Die wens is maar klein en tog... Kan hierdie pyn net ophou? Wil ek hieroor praat? Met wie sal ek kan praat? Wie wil dit hoor of verstaan? 'n Bodemlose put in my siel... Ek slaan my oë op na die berge waar sal my hulp vandaan kom? Die windpomp wieletjie wieg saam met sy engeltjie. Iemand, buite in die straat, sing : " We wish you a Merry Christmas" My hart kramp. "By the Rivers of Babylon". 'n Sug.

Thursday, March 25, 2021

In die Bos


Die stroompie brommel sy lof,
Die voëltjies voeg hulle viooltjies by.
En die wind sing so rustig deur die bos en bome.
Hoe kan ek nou nie my lofsang bring?
Hoe swyg ek oor U genade so onbeskryflik groot? 


So saggies deur die bosse... so vreeslik saggies sweef die aroma in my neus.
Dis bos en water, gras en blom.
En so nou en dan die lieflikke son.
O hart van my, waar is die woorde om U lof te bring.



My seun, my seun....

Laat my dink aan die tyd toe my oudste seun na die Marines toe is. Hy was tuis geskool en hierdie ma het my kind omtrent elke dag van sy lewe by haar gehad. Toe is hy net weg vir drie maande. Al wat ek kry is 'n weeklikse een velletjie briefie, geskryf op die Marine skryfpapier. Sien hom nie en hoor hom nie.
Na die drie maande gaan ons vir sy graduering van basiese opleiding. My knopknieë, maer, science-nerd seun het 'n man geword. Sy arms was so dik soos sy beentjies was. Sy tafelmaniere het honderd persent verbeter. Sy waardering vir sy ma ook. Hy het ook die "kuns" aangeleer om homself te beteuel wanneer ander mense hom in 'n argument probeer uitlok.
Hierdie ma het baie trane gestort toe hulle ons 'n video gewys het, met die plegtigheid, van hoe die opleiding gedoen was. Maar my seun? Hy is nou al 7 jaar uit en ek kan steeds die goeie gevolge van sy diens sien.