Saturday, June 27, 2020

As jou huwelik gebreklik is...

As jou huwelik gebreklik is...

Natuurlik is nie alle kinders dieselfde nie. Party is natuurlik baie gehoorsaam, ander is baie stout. Party is intelligent,  of kunstig, of musikaal, of fiesies aangewese vir sport. Moeders kom by  mekaar en gesels oor hulle kroos. Die mylpale van gewone kinders is reuse oorwinnings vir die gebreklikke kind. Die toekoms lyk ook anders vir die outjie wat drie keer harder moet werk  om te behaal wat meeste kinders maar soos asemhaal leer doen.

Waneer 'n ma 'n gebreklikke kind het kom daar 'n tydperk van rou wanneer mens besef dat daar iets kort kom met die kind. Daar kom 'n tyd van woede, van magteloosheid, van die behoefte om te vlug maar ook uiteindelik 'n plek van aanvaarding. Die kaarte wat vir jou gedeel is, word gespeel.

Meeste mense het genade en simpatie vir gebreklikke kinders en hulle ouers.

Maar wat nou gemaak as jou huwelik gebreklik is?

Net soos met kinders as mens ten minste twee armpies en twee beentjies met tien vingertjies en tien toontjies verwag, is daar 'n redelikke verwagting dat wanneer twee mense met mekaar trou daar liefde vir mekaar is. Maar wat as een van hulle al die liefde op self spandeer sodat daar niks oor is vir enige iemand anders nie?

Ons lees die verhale, ons kyk die films en ons droom van romantiese eindes. Eindes aan ons eensaamheid en alleen wees, maar wat as die huwelik jou verlate, eensaam en afgesonder los? Mense dink dat as die paartjie vir 'n lang tyd getroud bly dat daar liefde, getrouheid, kommunikasie en respek is. Maar wat as daar skaars omgee, selfsugtigheid, woede en afjakke is? Wat as die woede uitbarstings van 'n autistiese kind 'n paar dinge kan leer van jou eggenoot se ontploffings?

Hoe kom 'n mens reg wanneer dames by mekaar kom met hulle tee en handwerk en gesels oor die hartklop in hulle lewe?  Hulle spog met hulle goeie man se koffie aandra in die more of die nuwe kombuis kaste wat hy besig is om te installeer of dat hy haar elke dag bel wanneer hy uitstedig is vir werk. Maar in jou gebreklikke huwelik weet jy nooit waar hy is of waarmee hy besig is nie. Jy durf nie vra nie want hy sal ure daaroor skreeu. Hy het laas vir jou iets aangedra op julle wittebroods en dan ook net om vir jou te wys hoe hy dit gedoen wil hê. Hy sal jou eerder vertel hoe onnosel jy is om nuwe kombuis kaste te wil hê, al is die huidigge kaste twee eeue oud. Jy probeer wegraak in die gesprek net soos die mamma van die gestremde kind. Hierdie mylpale bestaan nie vir jou nie. Dis 'n reuse oorwinning as jy dit deur 'n dag maak sonder 'n afjak of neerhalende aanmerking van hom af. 'n Dag sonder sy geskreeu en geklap is 'n goeie dag. Wanneer hulle die verjaarsdag geskenke wys en die juwele skitter, dan wonder jy hoe hard hy jou sal moet slaan voordat jy so iets kan verdien.

Wanneer jou huwelik gebreklik is laat radio en TV programme oor die pad na 'n beter huwelik jou huil want jy sal bly wees met 'n gewone huwelik, iets normaal. Jy het lankal die greep op jou drome laat gaan. Jy kyk nie meer na Hallmark kaartjies nie of ruik aan die blomme kerse of parfuums nie. Jy vermy romantiese plekke en dinge. Jou verwagting is baie laag. Jy bid nie meer vir 'n mooi toekoms nie. Jy vra maar net om te oorleef.

As jou huwelik gebreklik is leer jy dinge anders doen. Dit lyk dalk lomp en onbeholpe vir ander want hulle doen wat jy doen met grasie en gemak. Hulle kommer oor probleme met verrassings partytjies en planne vir vakansie. Jou kommer is om tog vandag nie 'n voet verkeerd neer te sit nie. Hulle vrees dat hulle eggenoot dalk te vroeg sal sterwe terwyl jy diep binne in jou, in die geheim, bid dat  daar gou 'n einde hieraan moet kom en jy gee glad nie om wie se dood dit sal bring nie.

Gemmerbier


Gemmerbier.

Mammie weet mos dat ek glad nie alkohol drink nie. Maar ek is 'n boere meisie en lemonade en koue tee het nog nie op my kom groei nie. In die somer hou ek van gemmerbier. Ons kan dit hier te koop kry maar dit het gewoonlik te veel suiker in. Ek kry Gosselings Diet Ginger Beer by die drankwinkel maar hou meer van my eie reseppie.

Ek het so verlede week die 2 gallon bottel met kraantjie  half vol met louwarm, gesteriliseerde water gemaak. Daarby half koppie roesyne, 'n koppie en half Gemmer wortel gerasper en 2 teelepels gis bygevoeg. Ek het 'n vadoek oor die deksel vasgemaak met 'n rekkie en dit op die stoep gaan sit. Gewoonlik gooi ek dit deur die sif en sit dit in die yskas net wanneer dit begin gis.

Maar met al die gehardloop as gevolg van virusse en onluste en poletiek en werk en Jane... het ek daarvan vergeet. Vandag doen ek so bietjie herstel werk aan die voordeur en daar staan die bottel.

Ek bring dit in en gooi dit deur die sif in 'n groot beker in. Toe proe ek eers. Dit was bietjies te suur. Smaak soos Hannah se Kambucha tee. Ek gooi al die kuns suiker wat ek het daarin. Roer en proe weer. Daar is nog te veel stukkies gemmer in, so ek gooi dit deur 'n doek en proe maar weer 'n bietjie. Ek haal die kleiner gallon bottle met die kraantjie van die rak af en gooi die gemmer bier daarin. Sien eers toe die vloeistof op die vloer mors, dat die kraantjie oop is. Gou eers skoon gemaak. En proe maar weer. Ek besluit om van Jane se appelsap in te meng om dit bietjie te versoet. En toe proe ek weer. Toe ek die bottels in die spens indra dink ek dat ek seker maar moet sien of mens die kraantjie kan gebruik so op die rak. Toe proe ek weer so bietjie.

Nou het ek al 'n koppie tee gedrink en vir Hannah gebel om raad te vra, want oor amper  twee ure moet ek werk en ek dink, ek het of die brousel te lank laat staan of te veel geproe.

Ek kan nog op my stoel sit en 'n laai oopmaak om iets te kry... wonder as ek stort of my brein sal wakker word?...  Miskien kan ek bel en sê dat ek ongelukkig nie kan kom werk nie maar hoe sal daardie gesprek gaan: 'Ek het per ongeluk te veel geproe'  Of  'Ek het per ongeluk die Gemmer bier te veel skop gegee'?