Die goud het in die strale van die son ingekruip. Die dagsê kom laat. Hier en daar is ‘n voor op die wa boom alreeds aan die verkleur. Party het ‘n gelyke hoeveelheid geel en groen blare. Dis mooi. So hartverskeurend mooi.
Die aand begin vroeg. Middag sontrale trek lui die skaduwees lank uit. Die blou van die hemel is dieper, meer intens as somer. Op die luggie kom die aroma van vars gesnyde gras. Daar is ‘n pienk “X” in die lug.
Dis aan die oostelikke kant, oos maar ook suid. My hart wil-wil ‘n rafeltjie daaraan bind. Lank staar my siel daarna. Dit dui die pad aan vir my hart. Dit gee rigting aan my verlange. Verby die bebosde rante en valeie na die dorre aarde waar bome kaal hul vingers in die hemel in steek. Dis daar waar olifante heinings platrap agter ‘n bietjie groen aan. Dis waar apies agter jou inglip om vrugte te steel.
Uit die blou van onse hemel…
Die kruis in die lug roep my selfs hoër op, hoog verby windrigtings en die ewigge gemis. Verby die blou van die hemel met die pienk kruis.
“X” merk die plek. Dit merk die plek waar my hart will wees. Dit merk die rigting waarheen ek reis. Dit merk my skatkis veilig gebêre waar afstand nie meer sal wees nie. Daar waar dood nie meer sal skei nie en waar diewe nie inbreek en steel nie.


