Sunday, November 27, 2016

Tuis, Werklik Tuis....

Ek kan die stof met die veraf houtrook op die morelug ruik. Die knars van die sand en die droee gras onder my voete amper hoorbaar. Die vars koelte van die vroeg more skemer verkwik my siel. Opgewonde om te gaan stap, om die volgende uur en n bietjie met my Vader te gaan gesels. 


Dan wanneer ek terugkom, met my innerlikke storm n bietjie meer uitgewoed, is Moedertjie daar. Haar nagrokkie steeds aan maar sy sit in haar stoel onder die lamp met haar hekelwerk. Sy se ek moet tee kry. Dit klink lekker soos n fees uitnodiging. Die tee proe soos tee maar dit is so baie beter uit Mammie se mooi blomme bekertjie met die dun randjie.

Die deure, nee hekke, van my hart het oopgeval. Die trane wat moes kom, wou kom oor soveel gebeure tuimel uit soos kalfies uit die stal in die lente. Snikke kom van ver uit my siel, jare se droefheid wat in my hartkas ingeprop was verskrik my met die oorvloed. En my skaam poging om dit weg te steek slaag glad nie.

Hoe hou mens die teuels van jou hart as jy amper nooit tuis kom nie? Dawid se na waters waar daar rus is. Het hy n tuis-plek bedoel? Nie die plek nie maar die mens wat "tuis" die waarde gee. N mens-plek waar jou gees en siel weet, weet sonder jou denke, dat jy veilig is, dat jy geliefd is. 

Hoe heg mens waarde aan so n gawe? Hoe kleur mens die prentjie sodat ander verstaan? Hoe weeg dit in die skaal van skatte? Huistoe waar ek tuis is. Dis waarna my hart verlang.


No comments: