Tuesday, October 29, 2013

Liewe Ou Suid Afrika, Ek mis jou.

Vandag moes ek ver pad ry vir 'n Suid Afrikaner. Amerikaners dink nie dat twee ure op die pad is ver nie. Die pad was mooi want dit is baie bebos hier en die herfs tooi die bome is so baie mooi kleure.

Dis laat in die herfs en die son se strale begin vroeg al lank word en die goud van winterson verf elke blaartjie met helderheid wat die somer son nooit kan by kry nie. Die somer son is silver en die herfs son, winter son, is goud. Die hout rook van die kaggels en houtstowe vul die lug met die asem, die geur van tuis. Daar is 'n bitter koue wind wat die droee blare laat sing. Die baritone en alt dreun in die bosse en die voeltjies bring die soprane en tenore. Waar kom hierdie diep verlange vandaan?

Ek verwag die klontjie op sy donkie om die draai. My oog soek vir die Afrikaans op naam borde en erens, vandag, het ek gedink aan die blou-rooi-en-wit padtekens.  Kan daar nie maar net 'n pad stalletjie wees waar ek biltong en koeksisters kan koop nie? Of miskien op een van hierdie houthuise se mooi stoepe kan sit met 'n koppie boeretroos en ouma se karringmelk beskuit.

Hier loop my hart sulke lang draaie. Weemoed vir 'n plek ver weg... nie net in kilometers nie maar ook in tyd. Tye toe ons nog kaalvoet in die rooigrond van die Hoeveld kon loop en grashalpies tussen ons tande kou. Die tortel duiwe hier is 'n aardigheid, daar was dit die alledaagse. Hier loop die bokkies, kalkoene, eetkorinkies en muishonde wild rond, maar my hart verlang na meerkaaie en bloukop koggelmanders en voels wat 'n simfonie sing, nie 'n kwarted nie.

Ek weet dis pers tyd in Pretoria en in die Laeveld blom die bome in rooi en geel en pienk. Donderstorms bring die nat-stof geur en die lied van die nag word onderbreuk deur valse note van skote wat inbreek op die vrede.

Ag, hoe kan ons dit ooit weer herwin? Is die dae van onskuld vir ewig verby?
Hoe plak ons die eierdoppe weer bymekaar en genees die roosknoppie met die blaartjies gekneus en stukkend, verstrooi?

Maar die grootste droefheid kom nie in woorde nie maar die weemoed wat daar staan in die oe van blou en groen en bruin. Jare van moegheid, leed en pyn, Angs en 'n kreet van wanhoop. Foto's spreek soos boeke van seer.

Ek slaan my oe op na die berge... dis nie die regte berge nie tog ego dit my kreet... waar sal onse hulp dan vandaan kom? Here, U alleen weet!

Monday, October 14, 2013


'n Pragtige Waarskuwing

Sondag more het ek 'n gemeente van 'n ou vriend besoek. Die jong man wat die diens geopen het, het sy liefde vir die herfs seisoen so uitgedruk: "I think in heaven, it will always be Fall; no summer heat or winter cold, just Fall."

Daar is iets in die koel, vars lug van die herfs wat my gedagtes draaie laat loop. Die seisoen is eintlik baie kort, vier of ses weekies lank. Ek hou van lang paaie ry. Daar is nog plekke waar die stof paaie deur die heuwels kronkel en die bosse en bome so ongelooflik mooi is. Die klip mure, bruggies, houtheinings en plank skure staan soos versierings op hierdie lieflike koek. Mens se oe wil net kyk en kyk en na 'n rukkie klink al die "ooeee" en "aaahhh" ook leeg.

Soms vroeg in die more is daar mis op die pad en heuwels. Die son lyk soos 'n gloeiende maan en die bome steek hier en daar hulle geel en vlammende koppe uit. Die dae word korter en die son se strale lyk of hulle lank en vol goud is. Die geur van vars houtvuur dwarrel deur die lug en mens word 'n koppie warm, gespysineerde appelsap aangebied.

Hierdie mooiste lieflikste seisoen met al die getooi en tradissies kom as 'n boodskapper. Dis bring die waarskuwing dat winter kom. Dis nie die winter soos in Suid Afrika nie. Nee,  die herfs se temprature is soos winter in die Laeveld. In die winter leef ons in ys en sneeu en temprature wat onder vriespunt is meeste van die tyd. Ons dra swaar stewels met goeie sole sodat ons op ons voete kan bly en trek baie lae klere aan met mussies en handskoene en serpies om ons van die koue te beskerm. Ons vervang die bande op ons motors en party sit spesiaale bande met metaal pennetjies aan. Ons koop sout en sand gemeng om op die paadjies te strooi om die ys te smelt. Ons bly binneshuis en hardloop maar net gou-gou waar ons net moet gaan... dis behalwe die brawes wat stukke hout aan hulle voete vasmaak en teen nekbrekende spoed teen die berge afjaag. Die dae word vreeslik kort en die kinders gaan skool toe in die donker en kom in die donker weer terug. Party dae is die dag ook so vaal donker en bewolk en dit kan vir weke so aangaan.

Niemand word kwaad vir herfs omdat dit met al die mooi ook die onderliggende boodskap dra dat die koue, ys, sneeu en donker dae kom nie. Ons wens nie dat herfs moet wegbly nie, ons verwelkom dit.

Net so is die boodskappers wat vir die wereld die blye boodskap bring dat ons nou ook vrede met God kan he want Hy het Sy seun in ons plek gestuur. Ons kan 'n vol wonderlikke lewe he wat hierdie dinamiese verhouding met 'n liefdevolle, gawe God insluit. Daar is liefde, daar is volheid, daar is wysheid, daar is verlossing en genesing. Die wondere van die fantastiese lewe wat moontlik is in 'n verhouding met God deur Jesus Christus gebruik al my woorde op.

Tog is daar ook in al hierdie mooi, in al hierdie liefde 'n waarskuwing. Die wat besluit om Hom te ignoreer, die wat besluit om teen Hom te kies, vir hulle wag 'n lewe van swaarkry sonder hulp, van huil sonder 'n teenwoordige skouer en 'n ewigheid in donkerte en smart.

Dis herfs nou, maar winter kom.