Wednesday, September 19, 2012


Dan Verlang ek Na die Hemel

Ek onthou toe jy gebore was, toe ek van die skool huis toe gewarrel het om my nuwe boetie te sien. Daar was tye van saamspeel en ondervindinge met my sussies wat ek nie meer onthou nie. My skoolmaats het in my oe, skielik oud geword en die mans se bleskoppe en dames se plooitjies sit snaaks op my oog. In my is hulle almal nog jonk. Dit laat my na die Hemel verlang.

Die land is nie meer my land nie want dit het so drasties verander. Nie net die name nie maar die plekke het ‘n atmosfeer van “bang” wees. Die mense skerm rond soos dassies op klippe wat elkeen prober om so ietsie bymekaar te kry om van te lewe. Dit laat my na die Hemel verlang.

Die mense het oor die algemeen verander. Die oe wat na my kyk het almal skaduwees in. Dis asof almal alcohol nodig het net om een voet voor die ander te kan sit. Wel, ek skat dit is skriftuurlik want dit se erens in Spreuke dat sterk drank moet gegee word vir hom wat rou. En ja, ek dink Suid Afrika rou vir die vreeslike situasie wat nou ons land is. Dit laat my na die Hemel verlang.

Is ander lande beter? Glad nie. Miskien in hulle skeinheilige voorgee om die beste voetjie voor te sit maar alhoewel meeste mense hier nog in houthuise bly sonder diefwering, is daar soveel slaggate in die wette en morele verval dat meeste hulle dae spandeer om die gate te vermy of uit gate te klim. Dit laat my na die Hemel verlang.

Amerikaners oor die algemeen aanbid geld.  Daar is geen groter status as om ryk te wees nie. Dit maak nie regtig saak hoe jou rykdom gekom het nie of wat jou karakter is nie, solank jy geld kan maak. Die waansin veroorsaak arm mense wat harde fiesiese werk doen, om hulle hele salaris uit te gee op lottery kaartjies en krap kaartjies. Dit laat my na die Hemel verlang.

Kerke loop leeg terwyl meer en meer vermaaks parke opskiet. Kersuitbeeldings op publieke pleine word onwettig verklaar terwyl yogi’s op dieselfde plekke sit met gekruisde bene en mediteer. Sommige state laat toe dat mense kaal rondloop in die strate maar as mens se aborsie of perversiteit is verkeerd, word jy aangekla van haatspraak. Dit laat my na die Hemel verlang.

Waar kan ons gaan om rus te vind? Waar is daar reinheid en vrede en geregtigheid? Waar kan jy wegkruip van gemors musiek en gemors beelde en gemors films? Dit laat my na die Hemel verlang.

Wanneer ek in Suid Afrika is kommer ek oor my kinders en kleinkinders, vriende en familie. Wanneer ek in Amerika is, breek my siel van verlange na my land en sy mense. Dit laat my na die Hemel verlang.

Ek wonder hoe my pa en ouma en vriende wat reeds weg is, sou dink oor dinge. Ek verlang na lank saamsit en gesels. Tyd gly tussen my vingers soos woestyn sand want strand sand sit tussen my vingers vas. Dit laat my na die Hemel verlang.

My hart vind pouses in die Woord. My siel skugter in die aanbiddingslied. Maar die vlakheid van die tydelikke, die stof op die spieel, die gordyn van hierdie vlees frustreer en hou my aards. Dit laat my na die Hemel verlang.

No comments: