Thursday, August 23, 2012

Wat is in ‘n Naam?




Die een ding wat my bo enige ander gepla, gekrap het gedurende my besoek aan Suid Afrika hierdie jaar, was die naam veranderinge. Daar is niks so verwarrend as om na ‘n plek, ‘n straat te soek en dan uit te vind dat dit nie meer bestaan nie. Die gevoel is amper asof jou hele geskiedenis uitgevee word. Asof die herinneringe wat in jou is, ‘n fars is. Dis asof jy nie bestaan het nie. Miskien is dit die rede vir die baie oorbenamings, ek weet nie…

My liewe man het ‘n naam verandering beleef. In sy ongeredde, wilde dae was hy “Pinky” en baie van sy ou vriende en familie noem hom nog steeds “Pink”. Dis ‘n naam wat geassosieer is met ‘n persoon en ‘n geskiedenis waarvan ek nie deel is nie. Elke keer wanneer iemand hom so noem dan weet ek twee dinge. Eerstens weet ek dat hierdie person hom al vir baie jare ken, dat hulle ‘n geskiedenis het. Tweedens weet ek dat hierdie geskiedenis deel is van sy ou lewe, voordat hy sy lewe aan Jesus Christus gegee het.

So dikwels spartel ons met wie ons is of wie ons was. Daar is mensies wat soos die Israel van Esiekeel in hulle geboortebloed sukkel. Wat nog gebonde is aan die pa en ma wat hulle verwerp en gevloek het, wat die woorde van haat nie uit hulle gedagtes kan kry nie. Dit weerklink soos die egos van ‘n gekrapte plaat in ‘n lee huis, oor en oor en oor in hulle siele. Of dalk is dit die bestaan van nasie, of geslag, of taal, of kleur wat die donker oor ‘n geskiedenis hou.

Paulus skryf aan die Korinteers “En dit is wat sommige van julle was. Maar julle het jul laat afwas, julle is geheilig, is geregverdig in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van onse God.” Daar is ‘n definitiewe voorheen en nou. Daar is ‘n verlede en ‘n hede. ‘n Toe en nou. Daar is iets wat die tyd verdeel het, wat ‘n onuitwisbare merk op die tydlyn gemaak het van wat ons is, en wat ons was.

 
Daar is ‘n plek van afsterwe. Daar is ‘n Golgotha berei vir elkeen van ons waar ons die oue, die eie ek, kruisig en waar ‘n nuwe mens gebore word. Daar, aan daardie kruis is die aanklag van ons verlede vasgenaal. By daardie kruis verloor ons die identiteit van slawerny, van siekte en verdriet. En in daardie kruis verdwyn ons geskiedenis van smart. Aan die Galasieers skryf Paulus dat dit nie meer ek is wat lewe nie maar Christus wat in my leef en die lewe wat ek nou leef, leef ek in die geloof in Christus Jesus.

Hoe hou ons dan vas aan die oue wanneer die Here vir ons die nuwe aanbied? Hoe hardloop ons dan terug na die vleispotte van Egipte, om weereens aan die pyntafel van ons gebrookenis aan te sit? Is daar nuwe lewe in jou siel, ware nuwe lewe? Kan jy met totale eerlikheid se: dat die oue is verby en die nuwe het gekom? Waar begin jou geskiedenis?

Daar is ‘n plek van sielerus waar die geskiedenis van ons verlede nie meer ons toekoms vasdraai nie. Hierdie plek het vir almal dieselfde address. Dis ‘n address wat nooit sal verander nie. Dis ‘n naam wat vir ewig sal stand hou. Dis ‘n lewensverhaal wat tot in ewigheid in uitstrek waar daar nie meer verdriet, skeiding, wreedheid en naaktheid is nie. Daar is ‘n plek waar almal welkom is, as hulle deur die deur kom. Daar is ‘n naam wat ook ‘n plek is, ‘n toekoms is, waar ons op kan staan.

In hierdie naam is daar geen verwarring, of verdwaaldheid want alle wysheid en openbaring is daar. In hierdie naam vind ons vrede, aanvaarding, ware liefde, en ewige verwantskap. Ons vind ons ware self want ons kyk na onsself vanuit ‘n openbarings gesigspunt. Daar is geen virwisseling of verandering nie. Daar is ‘n ewige rots, ‘n son wat nooit ondergaan nie. Daar is ‘n hoop en ‘n lewe.

Hierdie naam, hierdie plek, is Jesus Christus, die seun van die alleen lewendigge God.



No comments: