Saturday, December 3, 2011

Dankbaarheid


Hier in Amerika is daar 'n vakansie dag, 'n feestyd wat om dankbaarheid draai. Dit laat my glimlag sedert God en Sy gebod meer en meer verban word uit hierdie nasie. Tog is die fees van Dankbaarheid nog in die kultuur.

Ons  was twee ure op die pad om by my swaer se huis te kom. Dis op 'n grond pad wat op 'n heuwel sit en ek kommer al vir amper 'n week of die voertuie die rylaan sal uitkom. Dit het gesneeu, omtrent 8 duim, en die pad was vol ys. Die denne-bome was asemrowend mooi op die laaste stuk pad maar toe mis ons die afdraai. Dank die Vader vir selfoon diens.

Stacia is half Grieks en half-Rooi Indiaan. Sy het hierdie fees maal al tot 'n kuns uitgewerk. Dit word in hierdie familie as 'n "Buffet" voorgesit en Stacia gebruik "Slow-cookers" om die kos lekker warm te hou. Daar is iets warm en tuis van hierdie huis. Dis 'n hout huis met hout pilare binne. Die verhitting is 'n groot ou houtstoof in die kelder. Die hout rook meng met al die gesellige geure van die kos en koek en terte. Dis lekker om deel van 'n familie te wees.

Die twee ure terug word gebruik om informasie te deel en Ouma en Ou-tante te bespreek. Wel, ouma is amper 80 en die groot tannie is 90. Daar is baie wysheid wat uit hulle kom en ons waardeer elke oomblik daarvan. Vanjaar was daar 'n nuweling. Een van die neefs is verlede maand getroud en sy vroutjie was saam vir die eerste keer.

 Die geskiedenis kom uit 1621 fees te Plymouth in deesdae se  Massachusetts. Dis 'n fees oor hoe God 'n Rooi Indiaan met die naam van Squanto gestuur het om die Pilgrims te wys hoe om te plant vir kos. Gedurende die vreeslike vorige winter het baie van die setlaars omgekom van honger en koue. Die huidige feesdag was ingestel deur President Abrahm Lincoln gedurede die burger oorlog in 1861... "to set apart and observe the last Thursday of November next, as a day of Thanksgiving and Praise to our beneficent Father who dwelleth in the Heavens."

Dankbaarheid vul my vir hierdie familie. Vir my gesin wat nog almal redelik gesond en hier rondom my is. Dankbaar vir klein Tayler wat gebore is. Dankbaar dat Joshua hier is. Ag, dis sommer goed om net dankbaar vir alles te wees. "Dankie Hemelse Vader, vir al U ontelbare gawes."




Sunday, November 6, 2011

"Heaven on my mind..."

Daar is 'n ou, ou liedjie... "Lately all I've got is leaving on my mind...". Deesdae is dit die hemel wat op my gedagte is. Die herfs maak my bietjie melankolies maar hierdie verlange na 'n plek waar daar geen trane, geen skeiding, geen pyn, geen moegheid, geen onreg en sonde sal wees, is anders.

Ek sit hier voor die rekenaar en kyk/luister na die ou evangelie liedere wat deur mense gesing word wat ook al oor die hemelse drumpel geloop het... en ek weet daar is mensies aan hierdie kant wat seker ook binne kort op die hemelse trein gaan klim en dan sit ek hier met my boks tissues. Hoe kan ek dit beskryf?

Daar is 'n plek waar ouma Maggie al klaar met Jesus is... en Oupa Heymans saam met haar... Die laaste gesprek wat ons gehad het, het sy my vertel dat ek "okay" sal wees. Sy het ook gese dat as sy daar kom sal sy 'n edelsteen soek wat die grote van 'n sokkerbal is. Sy sal vir my wag, want as ek daar kom gaan ek en sy lekker voetbal speel. Dis die plek waar my pa al klaar met sy God is... die een wat hy met alles in sy krag gedien het. Dis die plek waar die mense wat so baie groot invloed op my lewe gehad het is; al het ons nooit mekaar op hierdie aarde ontmoet nie. Soms voel ek die skaal swaarder word aan daardie kant. Ek voel myself gly asof die wipplank 'n glyplank word en ek wil nie regtig meer klou aan hierdie kant nie.

Daar is 'n plek waar tyd nie meer 'n kwessie is nie. Daar is geen distansies nie. Daar is geen geheime nie. Alles is net soos dit is. Daar is geen soeke vir die tyd en plek om net in SY teenwoordigheid te sit nie want daar sal Hy altyd met ons wees.  Ons sal nie moeg word nie want hemelse liggame het nie hierdie vleiskassies se beperkings nie.

Waarom is ek nog hier? En wat sal my nalatingskap wees? Steve Green sing: "O may those who come behind us find us faithful.." Wat is die boodskap wat my lewe hier skryf? Wat is die "suksesse" wat my naam sal volg? Is daar enige? Die sondagskool koortjie het gevra: Sal daar dan sterre skyn, in my kroon. As die son en die maan hier verdwyn. En ek weet dat in die gange van die Hemel die prestasies anders bereken word as hier. Wat sal die kroon wees wat ek by Sy voete sal neerle?

Dan is daar ook die toestand van die aarde, die kerk in algemeen, die nasies in hulle goddeloosheid wat my siel so moeg maak. Hoe lank kan al hierdie geweld en ongeregtigheid, vuilheid aangaan? Wanneer gaan die Here 'n einde maak aan kinders wat mishandel word, verkragtig, moord, verdrukking, armoede en honger.... Die Bybel se dat Hy self die trane van hulle oe sal afdroog.

Dan roep ek saam met al die martelare, saam met al die wat reeds daar is, en die Heilige Gees....." Kom, Here Jesus, Kom gou-gou!"

Sunday, October 9, 2011

Die mooiste maand in die jaar is laat...

Die mooiste tyd van die jaar in die Noord Ooste van America is nie lente nie. Dis nie die middel van die somer nie en ook nie eers kersfees met al die sneeu en liggies nie. Nee, dis die maand van Oktober.

Oktober is wanneer die bome hulle laaste dans het voor die lang winterslaap. En hulle is uitgedos vir die okasie soos geen ander tyd. Die kleur eis so asemrowend dat mens net buite wil bly en staar. Dis asof selfs die son, die wolke en die blou van die hemel saam speel om hierdie tyd mooier as mooi te maak. En vir hierdie paar weke, twee of drie, is selfs die sons opkoms en sonsondergangs asemrowend.
Die damme, mere en riviere weerkaats prentjies wat jou stil maak. Die vlamme rooi, die geel met groen gemeng en die diep rooi en roes bruin kom le in jou hart en die lang geel sonstrale van die middag laat jou verlang na iemand of erens. Daar is weer 'n huppel in jou stap en jy voel lus om te bak en te kook en te gaan stap en 'n berg te klim.

Vars mores maak plek vir warm middae en koel aande... en jy wil aan dit vashou, vasgryp soos die liefde wat kom in jou tienerjare. Dis so volmaak, so prentjie mooi...maar gou-gou is die bome kaal en die mores vol ys en die nag te lank en die paaie toegesneeu.



Friday, July 1, 2011

Slange

Die waterval het so rustig gedruis in die warm somerson. Ek moes vir 'n half uur of so wag tot die klient huis toe kom. Water, viral luidse water trek my. Die dammetjie, leer ek later, was baie dekades gelede gebou en met rooshout uitgevoer. Voor die tyd van elektriesetyd het die mense ys in die winter uitgesaag en in yshutte met hooi gepak vir die somer maande. Dan word die ys in 'n spesiale kombuis kassie met gaasdraatjies of blik stukkies met gate in gesit, om melk en poeding koud te hou. Hierdie dammetjie was daarvoor gebou. Nou sit dit net hier met bossies en dooie bome en lang gras omsingel. Die enigste doel wat dit nou het is om vrede vir die siel te bring. Dis so mooi. Die aanlokking van die gedruis en die koel windjie wat so vrolik deur die blare waai lok my daarheen.

Die grasperk is niks meer as 'n hooiveld wat met 'n grassnyer kort gehou word nie. Ek moet mooi trap want die molletjies het tonnels onder die grond gegrawe en as jy daarop trap, dan val jy. Ek sien die swart, blink koei plop. Nie seker wat dit was nie, het ek eers stil gestaan. Toe dit begin beweeg het ek sommer een groot tree regs getree en uit die ding se pad gekom. Amper een meter lank en ten minste twintig sentimeters rondom die lyf. Daar was geel-wit onder die keel met swart kolletjies. Dit het onder die blare aan die kant van die grasperk verdwyn.

In hierdie deel van die wereld is daar net twee giftige slange. Een het 'n ratel aan die stert en die ander het 'n drie-sydigge kop. Hierdie een was nie giftig nie maar, my maag was dadelik op 'n knop en my hart het probeer uit my keel spring.  Later toe ek die tannie vertel van die slang verduidelik sy vir my dat hy nie giftig is nie. Sy se dat hy ronde ogies het en dat die slange met glefie-oe soos 'n boerbok of 'n kat, giftig is. Ek weet nie van enige Afrikaner wat  na genoeg aan 'n slang sal kom om te kyk watse oe die ding het nie.

In my boeke is die enigste goeie slange, dooie slange.
Op die webblad oor slange in hierdie area, se dit dat die swart, slymerigge slang beskermed is.... dit plaas my in 'n hoek.

Thursday, June 30, 2011

Ek en die Ou Mense...

Op Nelspruit het ek altyd saam met die Tannies gaan bid en na vroue konferensies gegaan. Hier is ek deel van 'n gebeds groep waar ek die twede jongste is. Hulle dink ek is die jongste. Dis asof my gees met hulle kan saamdraf alhoewel my liggaam hulle lank sal verby leef. My geloofspunt is om honderd en twintig jaar oud te word. Ek reken as dit goed genoeg was vir Moses, is dit goed genoeg vir my.

Daar is seker maar iets ouds in my siel. Dit lyk asof ek altyd saam met mense land wat ouer as ek is. Party keer baie jare ouer. My liewe ou man, en ek bedoel oud, is elf jaar ouer as ek.  Dis soos gister toe ons van die vliegtuig afklim in Engeland. Dit was Oktober en niemand het my bietjie vertel hoe om aan te trek nie. My enigste vlug voor hierdie was na Swaziland in 'n Cesna. Die Suiderlike en Noordelike half rondtes was net prentjies in my Aardrykskunde boek wat Ragab ons eers in potlood en dan in pen laat afteken het. Dit het nooit by my opgekom dat die seisoene omgekeer is nie. Toe ek eenkeer in National Geographic gelees het van temprature van minus 20 C het ek gedink mense leef seker nie daar nie.

Ek het Johannesburg verlaat met sweet op my voorkop en sandale aan my voete. Nie die sandale wat die dames in Suid Afrika dra nie. Hierdie sandale was handgemaak deur een van die jong manne in die bediening-sending waar ek die laaste jaar gespandeer het. Hy laat jou op die papier staan om jou voete met 'n potlood na te gaan. Dit was die mees praktiese en mees gemaklikste skoene wat ek ooit besit het. Dit was fantasties vir die stofplekke en klein klippies in die Laeveld. Behalwe dit het ek net een paar ander skoene besit: swart, een duim hakke en beslis onprakties.

Toe ek in 11°C in Engeland afklim was ek amper dadelik blou van die koue. Die wind het van die see afgewaai en dit het gereen. Wanneer reen dit nie in Engeland nie? Die ou wat saam met ons van Suid Afrika gekom het, het my sy baadjie geleen. Hy was 'n goeie soort, groot, boereman met diep stem en vriendelike glimlag.  John en Amanda het ons twee groepe van Amerika en Suid Afrika saam gebring in Engeland om daar dienste te doen en dan het meeste van die groep Israel toe gegaan. Ek kon toe ook Israel toe maar my hart het gebrand vir Amerika. (Dis 'n ander storie)

Ons was op die lughawe voorgetel aan al hierdie ander mense. My maag het begin vlinders kry. Ek dog toe dis omdat ek die een-en-twintig dae vas, wat ons by die sending gedoen het, op die vliegtuig gebreek het. Wat weet ek nou? Daar was hierdie Amerikaner met 'n mooi snor maar sy hare op die kroontjie was al besig om grys te word.  Ek se vir myself.: "Hy is Ancient". Daar was iets interesant omtrent hom. Ek was nie lus vir kerels nie. Ek was drie keer verloof  en het die laaste ou vier dae voor die troue gelos. ( 'n ander dag se storie) My doel was nou om net die Here te volg en te vergeet van al die nonsens. Eintlik het ek met die Here 'n ooreenkoms gemaak wat ek van vergeet het. Na die laaste verlowing gebreek is, het ek 'n lysie gemaak van wat ek in 'n man soek. Toe gee ek dit vir die Here en se: As jy my hierdie man kan gee, sal ek trou, maar andersins is ek okay met myself. Ek het nie 'n man nodig om my ongelukkig te maak nie, ek kan dit vir myself doen.

Na 'n hele klomp ander draaie , is ons sewe maande later getroud. Aan die begin was die ouderdom verskil nie so baie sigbaar nie maar nou is sy hare amper heeltemal silwer en myne is maar wat ookal in die botteltjie is. Wanneer ons kuier saam met sy familie luister ek na stories van: "Onthou jy nog...", terwyl ek nog my storie skryf. Hy is al vir jare op oumens afslag en ek hou my ouderdom geheim. Hy wil nou rustig sit en laat slaap. Ek wil nog die aarde verskuif.

Vandag moes ek myself weer herinner dat die dames waarmee ek saam bid, is baie ouer as ek. Hulle  wysheid is my rykdom en my sterkte is tot hulle beskikking. Ons loop hierdie paadjie saam maar ons tree val nie dieselfde nie. Hulle voete soek na sekerheid en wag om die regte plekkie voor hulle dit neersit. My voete is ongeduldig en raak soms net die klip of plant of grond vir 'n sekonde. Hulle jaag nie meer vlinders en klim nie meer bome nie, maar geniet my stories as ek van die vlinders vertel en uit die bome val. Hulle is daar om te troos en te bid en my bloedigge kniee te versorg. Maar ek weet dat hulle 'n bietjie vinniger loop omdat ons saam loop en ek, ek wag ook so bietjie want dis 'n saam - saam ding.