Soos elke ander aand wanneer ek inkom, gesels ons so bietjie rondom die tafeltjie in die sitkamer. Haar haartjies is klaar gekam, haar nagkleertjies aan. Sy wag net vir my om haar in die bed te kom sit. Sy wag vir my storietjies. Haar denke is besig om te verdwyn maar sy ken my kinders en kleinkinders en vra soms na spesefieke ene.
Vanaand toe sy vra wat in my lewe aangaan het ek seer gesug. My antwoord is altyd eerlik. Wat maak dit saak. More vergeet sy dalk wat ek gesê het. Maar vanaand lê die hartseer vlak in my hart. Trane rol al die hele dag. Trane van rou en meegevoel.
Hoe troos mens 'n ma en pa wat besig is om hulle seun se begrafnis te reël? Hoe sê ek vir my ou maat dat dit sal beter word wanneer ek weet dit sal nie? Lieg ek maar omdat dit is wat sy nodig het?
'n Mens voel so magteloos. Jy voel jy wil iets doen om hulle leed te verlig. Soos my kleindogter wat vir hulle roomys gebring het om hulle beter te laat voel. Wanneer mens 4 is, klink dit na die logiese antwoord. Maar as mens al self ouma is, wat is die antwoord?
Ek weier om die ander onnosel goed te sê wat mense soms kwyt raak. Dinge soos "dit was maar sy tyd". Wat?! Is jy mal? Die kind was 18. Of hierdie een "dis maar die Here se wil". Regtig!? Die duiwel steel, moor en verwoes. Nie die Here nie. Ek bly maar liewer stil want soms atverteer mens net jou onnoselheid.
Ek gee haar 'n drukkie. Hy kry ook een want dis buitengewone omstandighede. As ons net kon weet wat dit regtig beteken om mekaar se laste te dra. Dan skuif ek maar my skouers hier langs my vriende se skouers en lig hierdie reuse gewig. Lig hierdie gewig voordat dit hulle vergruis en alles wat mooi, lig en hoopvol is verwoes.
Ag Here, help ons. Ons weet nie wat om hiermee te maak nie.