Die dag het al vroeg, vroeg begin op 'n verdwaalde noot. My klient wat op vyf-en-tagtig nie meer so goed kan onthou nie, was op net na ses want, êrens in haar gedagtes was iets van die medisyne dame kom vroeër. Na die stort kniel ek om haar voete droog te maak. Tone wat kromtrek en are wat blou-pers padkaarte teken tussen die merke op haar vel. Voete met vrolik geverfde toonnaels laat my altyd aan Mammie dink, dink en verlang.
Alles sou seker anders gewees het as die medisyne dame vroeg gekom het. Maar dit was nie vandag se beskikking nie. Toe die dame later opdaag was onse ou moeder, so die moeder in dat haar groot blou oë vuur gespat het. Frustrasie gooi haar oor die tafeltjie en trane spat. "Nou lyk dit of ek my kop verloor het."
Miskien het my hart na haar uitgegaan en het medelye my energie gesteel. Miskien het haar pyn van verdwaling in haar eie bietjie wêreld my aan die hart gevat. Ek weet nie. Miskien is dit aansteeklik of miskien was dit in die atmosfeer. Dalk was daar iets kosmies in die planete en sterre aan die gang.
Ek jaag huistoe om my liefdekind, kleindogter na die "groet-en-ontmoet" by haar skool te neem. Haar Mamma is met vakansie en het instruksies gelaat, selfs 'n foto van die brief aangestuur.
Ons is besig om in die kar te klim. Alles lyk goed. Jane het een van haar nuwe blou rokkies aan met wit daisies op. Haar hare in 'n los poniestert met 'n blou bolletjie en lint. Ek kyk weer na die foto van die brief. Daar is twee tye. Een vir heeldag en een vir halfdag. Die halfdag is met geel gemerk. Ek text my dogter. Sy is still. Ons besluit om te gaan inkopies doen en later te gaan want dis hoe dit lyk volgens die brief. Amper by die twede winkel bel my dogter. Ek het die brief verkeerd verstaan en was veronderstel om die oggend besoektyd by te woon. O aardetjie. Ek wil, wil in frustrasie toewoel maar bly kalm.
Ons kom huistoe om gou 'n ietsie te eet voor die middag se afspraak by die skool. Ek los Jane met oupa en hardloop gou bank toe om die "morgage" te gaan betaal. Die ATM werk nie saam met my nie. Ek probeer twee of drie dingetjies en dit werk nie. Ek besluit om 'n tjek te gebruik en trek weg.... skaars om die hoek besef ek dat ek my debietkaart in die ATM vergeet het. Ek skarrel terug. Nee, dis nie meet daar nie. Ek vra die dame by die oprit venster. Maar sy gee my 'n standaard antwoord in 'n eentonigge stem soos 'n rekenaar. Frustrasie. Ek het nou net twintig minute oor voor ek die kind by die skool moet hê. Maar ek moet nou eers parkeer en in die bank ingaan om die bank kaart terug te kry. Wel dit was makliker gesê as gedaan. Nou moet hulle eers my bestuurslisensie (ID) scan want die een wat hulle het is baie oud. Dan 'n nuwe kaart uitryk. Frustrasie. Maar ek bly kalm, ten minste uiterlik.
Ek kom by die huis, gryp Jane en jaag na die skool. Daar is 'n paralel parkeerplek reg voor. Paralel parkeer is iets wat ek gewoonlik probeer vermy. Baie versigtig wurm ek die kar in die parkeer spasietjie. En ek raak nie een van die ander karre nie, voor of agter. Net toe ek amper reguit is, klim so jong outjie uit die voorste kar en gluur my aan asof ek nounet sy tjorretjie ingeduik het. Frustrasie. Maar ek groet en gee hom my beste glimlag.
Ons kom by die deur. ' n Doesyn kinders en ouers kom aangeloop. Ek druk die klokkie. "O ons sal die deur oopmaak in vyf minute." Die sement sypaadjie kook in die somer son. Dit is seker 37C. Vyf minute is soos 'n uur. Jane staan in ouma se skaduwee. Frustrasie. Maar ek praat so bietjie met 'n Russiese mamma en glimlag.
Omdat ons in die verkeerde kuier uur aankom moet ons eers in die kantoor wag. Die onderwyseres word geskakel om te sien of sy ons kan akkomodeer. Frustrasie. Maar die sekretaresse onthou Jane van die vorigge jaar en loop saam met ons na die klas toe.
Die Juffrou is die vroutjie van 'n seun wat voor my grootgeword het. Hy en sy broers en suster het met my kinders gespeel en sy ouers is goeie vriende van my. Nou is daar geen frustrasie nie. Haar mooi glimlag wat tot in haar oë kruip is eerlik en opreg. Jane hardloop rond in die klas, trek 'n prentjie van 'n venster af en klim oor 'n stoel. Geen frustrasie nie. Die juffrou se stem en oë bly sag en vriendelik.
Dankie Vader vir U kinders wat op U genade lewe. Dankie dat frustrasie nie regtig aansteeklik is nie. Dankie dat Jane 'n Christen Juffrou gaan hê hierdie jaar. Dankie dat U alles wat my kommer reeds onder beheer het. U is sooo wonderlik.
