Vanmore verlang ek na die onskuldigheid en onkunde van jonkwees. Toe my grootste kommer was om te onthou om my tande te borsel. Ek verlang na kindwees, na die wonder en drome vir ‘n toekoms vol liefde, en vrede en goedheid en guns. Tye toe ek kon saamloop met die kiewiete en my ore uitleen vir die vinkies. My hart wil lank by jou voete sit en luister na al jou avonture, van lande met ‘customs’ wat vir hulle sin maak maar waaroor ek net kan wonder.
My hart verlang na ‘n tyd voor ek geweet het dat die wêreld wreed en die mense ongenadiglik kan wees. Tye toe die roekelose honger na euwel nog nie ‘n idee in my gedagtes was nie. Nog voor ek geweet het dat die uitroep vir vryheid: “Freedom!” ‘n kreet vir wettelose selfsugtigheid is. Voordat ek uitgevind het dat vir elke waarheid deur mensdom ge-uiter twee leuens êrens rond dryf. Die dae toe woorde nog beteken het wat dit sê. Toe ek knus in my onkunde en onskuld toegevou, alles in skakerings van mooi beleef het. ‘n Tyd toe ek die seer van my jonkwees met ‘n pleister van genade kon toemaak, toe my hart nog glad was sonder die eelte van littekens van ou pyn en rowe van nuwe seer. Hoe soet was die dae toe kos net kos was sonder die sorge wat daarmee saamkom. Hoe soet om te kon vertrou sonder een hand agter die rug en ‘n oog op die uitgang. Dis voor ek geweet het hoe seer “doodgaan” maak en dat verdriet nie einde het nie.
Vandag soek ek vir rede oor die hartseer wat soos ‘n dik, wol Swazi kombers om my toesak. In my menswees soek ek na uitkoms, soek ek die silwer randjie. Maar my weet sê vir my dat die mensdom deurdrenk is van euwel, dat goed net hier en daar deurbreek soos blommetjies op ‘n ashoop.
My innerlike vingers gryp na hoop maar soos ‘n rokie of ‘n walmpie fladder dit weg en verdwyn. Wanhoop klop hard aan my deur. Waarheen met teleurstelling op teleurstelling?
Van êrens in my diepste wese lui ‘n klokkie. ‘n Liggie kom op en dit maak die pyn in my bors los. Dit bring weer asem verby die knop in my keel. Ek hoor ‘n stemmetjie sê: Moenie vrees nie. Ek is met jou. ‘n Ou, ou liedjie styg van binne my: “ Many things about tomorrow I don’t seem to understand. But I know who holds the future. And I know He holds my hand.”
