Vroegmore is daar ‘n wolk van mis wat oor die velde hang. Die son lyk soos die maan deur dit. Die groen word opgebreek deur roes-bruin, goud-geel en vlam-oranje. Dis warm maar vogtig.
Bosse blomme, geel en diep oranje pampoene toring uit by die padstalletjies. Mense loop rond in truie en stewels. Fiets ryers is orals. Mense stop langs die pad met hulle noodligte aan om gou uit te spring vir ‘n foto.
Die mielielande staan seker sewe voet hoog en boere markte gebeur nou amper elke middag. Die tannies het al klaar appel botter, salsa en piekels ingelê. Dis oestyd in die Noord Ooste.
Die son breek deur nader aan middagete. Dis goue strale en lank. Die kleure is soveel dieper. Selfs die blou in die waterpanne het ‘n dieper toon. Diere huppel en rol in die gras. ‘n Groot bruin perd met sokke aan sy voete kom stadig op uit sy rol.
Een keer ‘n jaar word ek ‘n toeris, word ek meegesleur met die berge in hul lappieskomberse. My karretjie staan ook met die noodliggies aan langs die klipmuur, langs die pad. Ek trap deur die bossies om die wit stam van die Birch bome tussen die goud en rooi by ‘n dammetjie af te neem. Die stofpaaie en heuwels lok my en reën beteken net mooier kleure. Haal diep asem die geur van herfs kom sit in mens se hart.
Ons stop êrens by ‘n rooi geverfde winkeltjie in ‘n dorpie in die berge. Daar is ‘n rooi huis-brug oor die rivier. Ons drink warm appelsap met kruie in. Dis hemels.
Dan kom daar ‘n klokkie van my foon. Die fotos wat inkom is van die pers en wit strate van die Jakaranda stad. Ek kyk na elke foto. Staar in honger verwesenheid na wat is, onthou wat was en kommer oor wat sal wees.
O liewe land.
O harts land van my.
Hoe breek my siel oor jou.
Hoe naby aan die oppervlak dryf my verlange, my smagte na jou.
