Vanaand is ek moeg, moeg en gedaan. Dis nie die lekker moeg van ‘n lekker harde werkdag agter die rug met iets gedoen gekry nie. Dis ook nie die diep been moeg van te lank wakker bly nie, of die uitgetap van te lank met moeilike mense wees nie.
Nee, hierdie is ‘n moeg wat in jou siel gaan sit. Dis die moeg wat die hekke van innerlike ek laat buig en wiegel. Dis verby liggaam in jou siel in. Dis die gedaan wees wat mens laat wonder of die lewe werklik sin maak.
Hierdie uitgetap, gedaan wees lek uit die oe van die soldate na hulle basiese opleiding. Weerloosheid en staal, gedaan maar ook aangaan, by seer verby om weer op te staan, dis hierdie gevoel. My bekertjie is dolleeg.
Geen nag van slaap help meer nie. ‘n Vinigge koffietjie met ‘n vriendin en lag vir die manewales van die kleinkinders kan nie lig vir hierdie duister meer bring nie.
“Ek slaan my o”e op na die berge waar sal my hulp vandaan kom… Daar is ‘n plek van sielerus naby die hart van God… As ek sit aan Jesus voete…”
In my gedagte sit ek op die vloer langs Mammie se klavier. Sy speel en sing. Trane loop want die sluise van my siel het baie presiese sleutels. “O, stort dit uit in my siel…” Daar is ‘n vulstasie vir my leegheid. Daar is ‘n nessie, ‘n veiligheid waar die aanhou, uithou en aangaan nie nodig is nie. Hier hoef ek nie te glimlag as my hart huil nie. My koppie mag maar sak en my kniee buig.
