Tuesday, April 11, 2017

Die Morestond...

Daar is 'n ou Afrikaanse spreuk : die morestond het goud in die mond. Wat is die morestond? Wat is hierdie rykdom? Ek is seker dit kom van die plaaslewe af toe mensies moes baie vroeg opstaan en laat werk om al hulle dingetjies gedoen te kry. Mens prop nog steeds die dae so vol soos 'n suinigge tannie se reistas maar omdat ons so hardloop verlep ons gees van armoede. Nie 'n geld-armte nie. Nee, dis 'n armte van die siel.

Vroegmore, voor die son se strale alles goud verf, wanneer die voeltjies die dag uitnodig om te breek, is daar 'n oomblik wanneer die dag gebore word. Dis die oomblik wanneer die wonderwerk van nog 'n genade van Bo op ons neersak. Ons siel en gees verstaan bo ons denke die wonder wat dieper is as sien. Ja, ons sien die pynlikke mooi van die vroegmore skildery wat deur die donker takkies kom en die bloos van die dag op die seildoek van die nag. Ons hoor die deurmekaar partytjie van oogewonde voeltjies wie se gesange deurmekaar hardloop en mekaar uitdaag tot nuwe hoogtes. Ons ruik die klam gebak van die grond en die gras wat beloftes van lewe en goedheid aankondig. Miskien as ons voete kan, voel ons die bewing van die grond onder wat ditself wakker skud en opwindend bewe. Maar niks van die kan beskryf hoe die siel en gees die dag begroet nie.

Met die eerste vaalgrys van dagbreek en die eerste tortelduifie se koer kraak my siel die slaap se eier. My gees begin te dans. Van erens in my diepste wese kom daar 'n slaai, 'n bredie, van goedheid, hoop, heerlikheid, majesteit en die wete dat alles wat krom is sal reguit kom. My wese wil uithardloop in die bosse in om saam met die natuur in al sy volheid hierdie oomblik te vier. Dit wil bad en indrink van hierdie sekonde van ongefiltreede liefde. Die genot, Nee, dis dieper as dit... dis asof die snare van jou siel weer reg gespan word. Dis die spinnerakke van alles wat dof en donker is wat weggevee word.

Dit is alles in een oomblik, een vroee more oomblik. En dit, dit is die rede waarom ek vroeg opstaan. Waarom ek nie eers wil opstaan as ek deur hierdie oomblik geslaap het nie. Dis hierdie oomblik wat elke dag vir ons se dat dood nie oorwin het nie, dat liefde en genade seevier. Dis in hierdie oogwink dat die goddelikke inspuiting van skeppende genade ons siele intrek in Sy wonderlikke, almagtigge wese sodat ons deel word van Hom.