Oor Dood en Treur.
Vanmore loop my hart weer ver draaitjies.
My kleindogter en ek eet ontbyt saam as ek nie werk nie. Ons luister na Juanita du Plessis se album "Altyd Daar". Dis wat ons maar altyd doen sedert sy babatjie was. Daar is n liedjie "In die Hemel." Gewoonlik kan ek daarna luister maar vanmore loop die trane weer. Dis een van die liedjies wat hulle by my ousus se begrafnis gespeel het.
Verlede naweek het ek twee nagte gewerk by 'n familie wie se bejaarde moeder op haar sterfbed gele het. Die hartseer het swaar in die woonstelletjie gehang. Daar was mooi meubels van plekke met interessante name. Die skilderye kon self iemand soos ek sien was van plekke soos Egipte en Venesie. Van die paar gesprekke wat die kinders met haar gehad het was hulle lewe vol avontuur en liefde. Teen Maandagmore het my trane so maklik soos hulle trane gevloei. - Dis hoekom ek nie goed was as 'n verpleegster nie. Ek was te emosioneel oop. -
Dit laat my dink aan dood en treuring en hoekom sommige verkrummel onder die druk van die verlies. My sus het haarself dood getreur. My seun se skoonma het haarself dood getreur. Albei het hulle oudste kinders aan die dood afgestaan so drie of vier jaar gelede. Gedurende dieselfde tyd was daar twee ander moeders wat ook hulle kinders moes begrawe. Hierdie twee gaan aan met lewe. Een van hulle het twee weeskinders aangeneem na haar seun se afsterwe. Wat veroorsaak dat mense se harte so stukkend breek dat dit nooit weer heel word nie?
Die evangelielied kom in my gedagte op:"Wie kan harte troos soos Jesus? "
Om iemand aan die dood af te staan is seker een van die mees hartverskeurendste dinge wat ons hier op aarde kan oorkom. Hoe leef mense in plekke waar dood en onreg en verdrukking die orde van die dag is? Ek dink baie daaroor. Het die Here spesiale genade wat Hy gee vir hierdie plekke? Of word daardie deeltjie van mense se harte so hard, van al die seerkry, dat dit verdik en nie meer kan voel nie?
Here, help my hart om te kan staan onder die druk van die lewe. Maak my sterk in U sterkte sodat die pyn van menswees nie harde korse binne my maak nie. Help my gedagtes on trane te verwelkom en om my leed na U toe te bring.
