Sunday, June 30, 2013

My Hart is My Grootste Vegveld.

Terwyl ek gister met my sus gesels oor al die geweld en slaggate in die wereld, kom ons weer tot die uiteinde dat ons, ons harte nie kan verdonker nie. Dis so menslik om in vrees en haat te lewe. Ek weet dis nie van die Here af nie want wanneer ek vrees, wanhoop en geweld in my gedagtes toelaat word my gees swaarmoedig en donker. Die mantel van hopeloosheid is 'n baie swaar gewig om te dra en my hele liggaam en siel sug onder die vreeslikke las.

Die ou segoed wat my ouma en ma altyd gebruik het kom nou weer dikwels as geel ligte by my op: "Dit sal my siel versondig" was een van hulle gunstellinge. Dit word nou 'n wagwoord vir my om nie my oe op dinge te plaas wat my siel sal versondig nie. Wanneer ek die leuens en die "vloeke" wat as vryheid verkondig word sien dan will ek my donkie se kakebeen neem en my Fillistyne doodmaak, maar dan kom sagte murmur van die soete Heilige Gees wat se dat die Here sal omsien. Dat Hy is ons lig en ons bergvesting. Dan weet ek soos Job in wie my geloof is en ek weet dat as Hy ons klaar deur hierdie toets laat gaan dat ons soos goud aan die anderkant sal skyn.

Moenie vrees nie. Die Here is getrou en Hy sal saam met die swaarkry ook die uitkoms stuur.