Wednesday, April 25, 2012

'n Universieele Waarheid


My skoonpa was amper 80 en het die suurstof pypie so baie onder sy neus gehad dat daar 'n duikie op sy dierbare ou wange was. Tog het hy steeds bietjie tyd gemaak om met my te gesels. Ons het nooit doekies omgedraai nie. Dinge was altyd sommer net reguit tussen ons. Hierdie keer het ons oor sy gesondheid gepraat. Hy was reg om sy Meester te ontmoet en het daarna uitgesien. Hy het 'n goeie vol lewe agter sy rug gehad en het my vertel dat elke more wanneer hy wakker word het hy gese: " Ag, Here gaan U my nog 'n dag hier laat bly." Hy het net een versoek gehad en dit was dat hy nie sy kinders moet oorleef nie. Skoonpa het nog vyf jaar langer geleef en sy versoek was nie toegestaan nie. Ons het hierdie brawe man wat deur die Koreanse oorlog was, 7 kinders grootgemaak het en gehelp het om 'n kerk te stig, sien ween oor die graf van sy oudste seun. 'n Wegloop seun, 'n seun wat baie hartseer en lyding veroorsaak het, maar tog nog 'n seun. En in my hart het ek geweet dat dit verkeerd is vir 'n ouer om sy kind te begrawe. Dis net so verskriklik verkeerd. Dis teen die natuur, dis teen alles wat menswees is.

Dis 'n pyn wat nie getroos wil word nie. Dis 'n pyn wat uit die diepste van die siel van die moeder gekom het, wat twee jaar gelede die stille nag geskeur het met haar rou-roep vir haar oudste seun wat verongeluk het. Dis die hart wat maar nie weet wat om met die smart te doen nie. Elke keer as ek haar sien dan pluk daardie kreet vir haar seun nog aan my hart en dan se iets hier binne in my: "Waar is die troos?"

Dis die pyn waarna ek luister wanneer ek koffie drink saam met die moeder wie se enigste seun deur die polisie doodgeskiet is. Dis die weemoed en rou wat haar jaag, haar dryf om antwoorde te soek. Dis die gekerm in haar hart en haar arms wat nou leeg is. Al was 'n hy nie meer 'n kind nie was hy haar kind. Haar smart wil nie tot rus kom nie. Sy wil nie aangaan met lewe nie. Sy draai telkens om en om en om, om die een dag wat haar aarde vir ewig geskud het.

Ek voel so dof en verdwaas as ek nader aan my hart beweeg met die dag toe ons gesin die trama van 'n kind se afsterwe beleef het. Dae van bid en pleit by die Here om haar lewe te spaar, van glo vir 'n wonderwerk, van my kop laat sak en my ore toestop vir enige iets wat anders as "lewe" oor haar gespreek het, het geeindig in 'n kort boodskap van haar broer: "Tannie, Sus het dit nie gemaak nie."  Daar is nie genoeg trane vir my suster nie. My hart skeur daagliks en ek weet nie hoe sy een voet voor die ander sit nie. Fiesiese pyn kan nie kers vashou teen hierdie angstigge leed nie. Woorde is leeg. Afwesigheid is donker. Leed en pyn, die pyn op soveel verskillende lae. Dis soos brood en water, soos suurstof en lig, soos die grond onder my voete en die hemel bo my kop, dis soos niks en soos alles want ek weet nie wat om met dit te doen nie.

Van erens uit my siel kom 'n ander gesig na my; 'n vrou op haar kniee met lappe besig om die bloed van die grond op te vee. Dan staan sy aan die voet van 'n houtkruis terwyl sy bloed drup, drup en ek wil skreeu. Ek wil skreeu vir haar onthalwe. Vir die mens, die moeder, die vrou wat daar staan en haar hart laat vermorsel. Die Vader stuur sy seun uit liefde om 'n mensdom te red. Die moeder kry 'n swaard wat deur haar hart ruk en haar knak.  Maar hier in is my hoop. In hierdie vrou se smart is my rus. Geen ander vrede te vind maar hier, hier in haar kermende siel vind ek die toekoms, die lewe.