Daar is 'n ou, ou liedjie... "Lately all I've got is leaving on my mind...". Deesdae is dit die hemel wat op my gedagte is. Die herfs maak my bietjie melankolies maar hierdie verlange na 'n plek waar daar geen trane, geen skeiding, geen pyn, geen moegheid, geen onreg en sonde sal wees, is anders.
Ek sit hier voor die rekenaar en kyk/luister na die ou evangelie liedere wat deur mense gesing word wat ook al oor die hemelse drumpel geloop het... en ek weet daar is mensies aan hierdie kant wat seker ook binne kort op die hemelse trein gaan klim en dan sit ek hier met my boks tissues. Hoe kan ek dit beskryf?Daar is 'n plek waar ouma Maggie al klaar met Jesus is... en Oupa Heymans saam met haar... Die laaste gesprek wat ons gehad het, het sy my vertel dat ek "okay" sal wees. Sy het ook gese dat as sy daar kom sal sy 'n edelsteen soek wat die grote van 'n sokkerbal is. Sy sal vir my wag, want as ek daar kom gaan ek en sy lekker voetbal speel. Dis die plek waar my pa al klaar met sy God is... die een wat hy met alles in sy krag gedien het. Dis die plek waar die mense wat so baie groot invloed op my lewe gehad het is; al het ons nooit mekaar op hierdie aarde ontmoet nie. Soms voel ek die skaal swaarder word aan daardie kant. Ek voel myself gly asof die wipplank 'n glyplank word en ek wil nie regtig meer klou aan hierdie kant nie.
Daar is 'n plek waar tyd nie meer 'n kwessie is nie. Daar is geen distansies nie. Daar is geen geheime nie. Alles is net soos dit is. Daar is geen soeke vir die tyd en plek om net in SY teenwoordigheid te sit nie want daar sal Hy altyd met ons wees. Ons sal nie moeg word nie want hemelse liggame het nie hierdie vleiskassies se beperkings nie.
Waarom is ek nog hier? En wat sal my nalatingskap wees? Steve Green sing: "O may those who come behind us find us faithful.." Wat is die boodskap wat my lewe hier skryf? Wat is die "suksesse" wat my naam sal volg? Is daar enige? Die sondagskool koortjie het gevra: Sal daar dan sterre skyn, in my kroon. As die son en die maan hier verdwyn. En ek weet dat in die gange van die Hemel die prestasies anders bereken word as hier. Wat sal die kroon wees wat ek by Sy voete sal neerle?
Dan is daar ook die toestand van die aarde, die kerk in algemeen, die nasies in hulle goddeloosheid wat my siel so moeg maak. Hoe lank kan al hierdie geweld en ongeregtigheid, vuilheid aangaan? Wanneer gaan die Here 'n einde maak aan kinders wat mishandel word, verkragtig, moord, verdrukking, armoede en honger.... Die Bybel se dat Hy self die trane van hulle oe sal afdroog.
Dan roep ek saam met al die martelare, saam met al die wat reeds daar is, en die Heilige Gees....." Kom, Here Jesus, Kom gou-gou!"