Die mooiste tyd van die jaar in die Noord Ooste van America is nie lente nie. Dis nie die middel van die somer nie en ook nie eers kersfees met al die sneeu en liggies nie. Nee, dis die maand van Oktober. Oktober is wanneer die bome hulle laaste dans het voor die lang winterslaap. En hulle is uitgedos vir die okasie soos geen ander tyd. Die kleur eis so asemrowend dat mens net buite wil bly en staar. Dis asof selfs die son, die wolke en die blou van die hemel saam speel om hierdie tyd mooier as mooi te maak. En vir hierdie paar weke, twee of drie, is selfs die sons opkoms en sonsondergangs asemrowend.
Die damme, mere en riviere weerkaats prentjies wat jou stil maak. Die vlamme rooi, die geel met groen gemeng en die diep rooi en roes bruin kom le in jou hart en die lang geel sonstrale van die middag laat jou verlang na iemand of erens. Daar is weer 'n huppel in jou stap en jy voel lus om te bak en te kook en te gaan stap en 'n berg te klim.
Vars mores maak plek vir warm middae en koel aande... en jy wil aan dit vashou, vasgryp soos die liefde wat kom in jou tienerjare. Dis so volmaak, so prentjie mooi...maar gou-gou is die bome kaal en die mores vol ys en die nag te lank en die paaie toegesneeu.

