Op Nelspruit het ek altyd saam met die Tannies gaan bid en na vroue konferensies gegaan. Hier is ek deel van 'n gebeds groep waar ek die twede jongste is. Hulle dink ek is die jongste. Dis asof my gees met hulle kan saamdraf alhoewel my liggaam hulle lank sal verby leef. My geloofspunt is om honderd en twintig jaar oud te word. Ek reken as dit goed genoeg was vir Moses, is dit goed genoeg vir my.
Daar is seker maar iets ouds in my siel. Dit lyk asof ek altyd saam met mense land wat ouer as ek is. Party keer baie jare ouer. My liewe ou man, en ek bedoel oud, is elf jaar ouer as ek. Dis soos gister toe ons van die vliegtuig afklim in Engeland. Dit was Oktober en niemand het my bietjie vertel hoe om aan te trek nie. My enigste vlug voor hierdie was na Swaziland in 'n Cesna. Die Suiderlike en Noordelike half rondtes was net prentjies in my Aardrykskunde boek wat Ragab ons eers in potlood en dan in pen laat afteken het. Dit het nooit by my opgekom dat die seisoene omgekeer is nie. Toe ek eenkeer in National Geographic gelees het van temprature van minus 20 C het ek gedink mense leef seker nie daar nie.
Ek het Johannesburg verlaat met sweet op my voorkop en sandale aan my voete. Nie die sandale wat die dames in Suid Afrika dra nie. Hierdie sandale was handgemaak deur een van die jong manne in die bediening-sending waar ek die laaste jaar gespandeer het. Hy laat jou op die papier staan om jou voete met 'n potlood na te gaan. Dit was die mees praktiese en mees gemaklikste skoene wat ek ooit besit het. Dit was fantasties vir die stofplekke en klein klippies in die Laeveld. Behalwe dit het ek net een paar ander skoene besit: swart, een duim hakke en beslis onprakties.
Toe ek in 11°C in Engeland afklim was ek amper dadelik blou van die koue. Die wind het van die see afgewaai en dit het gereen. Wanneer reen dit nie in Engeland nie? Die ou wat saam met ons van Suid Afrika gekom het, het my sy baadjie geleen. Hy was 'n goeie soort, groot, boereman met diep stem en vriendelike glimlag. John en Amanda het ons twee groepe van Amerika en Suid Afrika saam gebring in Engeland om daar dienste te doen en dan het meeste van die groep Israel toe gegaan. Ek kon toe ook Israel toe maar my hart het gebrand vir Amerika. (Dis 'n ander storie)
Ons was op die lughawe voorgetel aan al hierdie ander mense. My maag het begin vlinders kry. Ek dog toe dis omdat ek die een-en-twintig dae vas, wat ons by die sending gedoen het, op die vliegtuig gebreek het. Wat weet ek nou? Daar was hierdie Amerikaner met 'n mooi snor maar sy hare op die kroontjie was al besig om grys te word. Ek se vir myself.: "Hy is Ancient". Daar was iets interesant omtrent hom. Ek was nie lus vir kerels nie. Ek was drie keer verloof en het die laaste ou vier dae voor die troue gelos. ( 'n ander dag se storie) My doel was nou om net die Here te volg en te vergeet van al die nonsens. Eintlik het ek met die Here 'n ooreenkoms gemaak wat ek van vergeet het. Na die laaste verlowing gebreek is, het ek 'n lysie gemaak van wat ek in 'n man soek. Toe gee ek dit vir die Here en se: As jy my hierdie man kan gee, sal ek trou, maar andersins is ek okay met myself. Ek het nie 'n man nodig om my ongelukkig te maak nie, ek kan dit vir myself doen.
Na 'n hele klomp ander draaie , is ons sewe maande later getroud. Aan die begin was die ouderdom verskil nie so baie sigbaar nie maar nou is sy hare amper heeltemal silwer en myne is maar wat ookal in die botteltjie is. Wanneer ons kuier saam met sy familie luister ek na stories van: "Onthou jy nog...", terwyl ek nog my storie skryf. Hy is al vir jare op oumens afslag en ek hou my ouderdom geheim. Hy wil nou rustig sit en laat slaap. Ek wil nog die aarde verskuif.
Vandag moes ek myself weer herinner dat die dames waarmee ek saam bid, is baie ouer as ek. Hulle wysheid is my rykdom en my sterkte is tot hulle beskikking. Ons loop hierdie paadjie saam maar ons tree val nie dieselfde nie. Hulle voete soek na sekerheid en wag om die regte plekkie voor hulle dit neersit. My voete is ongeduldig en raak soms net die klip of plant of grond vir 'n sekonde. Hulle jaag nie meer vlinders en klim nie meer bome nie, maar geniet my stories as ek van die vlinders vertel en uit die bome val. Hulle is daar om te troos en te bid en my bloedigge kniee te versorg. Maar ek weet dat hulle 'n bietjie vinniger loop omdat ons saam loop en ek, ek wag ook so bietjie want dis 'n saam - saam ding.